Goeiedag
“Manne, ek is bekommerd. Die gehalte van klubrugby het sedert die destydse nasionale klubtoernooi in Durban in die sewentig- en tagtiger jare dramaties agteruitgegaan. Ek weet die strukture van rugby en die koms van beroepsrugby en gepaardgaande geld in rugby het ons spel heeltemal verander.
“Saru moet geloof word vir die poging om klubrugby weer in ere te herstel met die instel van die FNB Varsity-reekse en die Cell C-gemeenskapsbeker-kompetisie. Ek het pas die Cell C- nasionale toernooi op George bygewoon en daar is spanne wat goeie rugby speel, maar daar is min van hulle en die gaping tussen van die spanne is baie groot,” begin Bontie Bonthuys ons indaba.
“Ja, reeds in die uitspeelwedstryde van die Cell C-gemeenskapreeks om vir die nasionale wedstryd op George te kwalifiseer was dit duidelik. Van die spanne is behoorlik verfrommel. Dit is nie goed vir rugby nie,” sê Botterbul Bester.
“Ek dink daar moet weer oor die Vodacombeker-reeks besin word. Gaan dit nie beter wees om liewer alle aandag op klubs aan die begin van die jaar toe te spits nie? In die Vodacombeker het Limpopo reeds ’n kriekettelling (124-0) teen die Poubloues op die lyf geloop. Dit maak nie sin nie en sonder goeie klubrugby gaan duisende spelers vir die spel verlore,” maan Stywelip Carrington uit die Haaie se streek.
“Ek moet saamstem. Die Kings het nou wel Superrugby-status gekry om ontwikkeling in die Oos-Kaap aan te moedig. Dit moet egter op klubvlak begin en die African Bombers het redelik in die Cell C-reeks gevaar, maar dit is ’n druppel in die emmer en hul saak word nie juis bevorder deur spelers van oorsee te werf en te kies nie,” laat Sporie uit Despatch van hom hoor.
“Kêrels, ek is bekommerd oor ons klubrugby in die platteland en die sentrale streek van die land. Dit was tradisioneel een van die groot voedingsbronne vir Suid-Afrikaanse rugby en nou het ons nie ’n enkele span op die nasionale toernooi nie. Dit is werklik kommerwekkend,” is Oom Sjert se bydra.
Uiteindelik eenstemmigheid in ons indaba.
Groetnis