Kolskoot – 29 Mei 2013

0
495

Goeiedag
Die Kolskoot-manne kies hul Springbokspan reeds sedert Saterdagaand en dit kan nog ’n tydjie neem voordat ons ’n span vir Italië, Skotland en Samoa agtermekaar het.
Daarom gee ons vir Sporie Bezuidenhout, ’n Spoornet-man in murg en been, eers ’n spreekbeurt, want hy is beswaard.
“Kyk manne, behalwe vir die Gautrein is daar in ons land geen trein wat reg en betyds loop nie behalwe natuurlik die Soustrein – die Soustrein is onstuitbaar en sonder beplanning en verantwoording,” begin hy.
“Ek hou my selde met politiek op, maar nou wil ek onse minister van sport, Fikile Mbalula, eers vra: Is dit nie verregaande om R65 miljoen op die Suid-Afrikaanse Sporttoekenningsaand te vermors terwyl daar talle sportspoorte is wat sukkel om kop bo water te hou nie?
“Ons gestremdes het al groot eer vir ons land op die Paralimpiese Spele verwerf, maar moet elke sent omdraai om die verskillende sportsoorte wat hulle beoefen aan die gang te hou.
“SA sportlui wat vir speles kwalifiseer kan dikwels nie gaan deelneem nie weens ’n gebrek aan geld. Komaan, Mbulula, kry jou prioritete reg! En dan praat ek nie eers van ordentlike ontwikkeling van sport en geriewe op voetsoolvlak nie”
“Hoor, hoor!” klink dit op. Die manne stem uiteindelik oor iets saam, maar nie oor die Bok-span nie.
Daar is net enkele posisies waaroor die manne saamstem en waar daar ’n staking van stemme is óf ons nie tot ’n vergelyk kan kom nie, word meer as een speler genomineer. Ná drie dae en nagte se gespook, lyk Kolskoot se Bok-span tans só: 15. Willie le Roux/Pat Lambie. 14. Willie le Roux/Gio Aplon. 13. JJ Engelbrecht/Robert Ebersohn. 12 Jean de Villiers (kaptein)/Jan Serfontein. 11. Bryan Habana. 10. Morné Steyn/Pat Lambie. 9. Jano Vermaak/Piet van Zyl. 8. Pierre Spies/Philip van der Walt. 7. Willem Alberts/Lappies Labuschagne. 6. Francois Louw/Heinrich Brüssow. 5. Jeandré Kruger. 4. Eben Etsebeth. 3. Jannie du Plessis.2. Adriaan Strauss (kaptein). 1. Coenie Oosthuizen/Beast Tendai Mtawarira.
Weerlig Willie le Roux word op twee plekke gekies, terwyl Bryan Habana (linkervleuel), Jannie du Plessis (vaskopstut), Adriaan Strauss (haker) en die slotpaar, Jean Kruger en Eben Etzebeth eenparig gekies word. Selfs die kapteinskap is in die weegskaal en die plaasvervangers is nog nie eers gekies nie.
Dankie tog ek is nie ’n nasionale keurder nie.
Groetnis