Kolskoot 28 November 2012

0
Kolskoot 28 November 2012

Goeiedag
“Sjoe, dit was amper! Die Springbokke het nou wel 16-15 gewen, maar ek is nie seker daardie drie van Willem Alberts was ’n drie nie,” begin oom Sjert van Bloemfontein ons weeklikse sport-indaba.
“Vir my is dit altyd lekker om die Engelse te klop veral as dit op Twickenham is. Dalk was dit nie ’n drie nie en het dit die Engelse ondersteuners in hul bier of tee laat stik, maar die Engelse het ook meer as ’n paar pasella-punte gekry met van die eienaardige beslissing van die skeidsregter,” verduidelik Bontie Bonthuys die saak vanuit sy oogpunt.
Almal is verheug omdat die Bokke die eerste keer in jare die jaareindtoer na Europa onoorwonne af sluit, want dit laat die seisoen op ’n hoogtepunt eindig. Vir die Bok-afrigter, Heyneke Meyer, is daar meer positiewe as negatiewe punte. ’n Stewige grondslag is gelê om op voort te bou.

“Julle weet die rugby-ewewig is nie meer eensydig in die Suidelike Halfrond se guns nie. Die Bokke en All Blacks van Nieu-Seeland het tot dusver skoonskip gemaak, terwyl Samoa en Poemas van Argentinië baie goed gevaar het, maar die Hane van Frankryk is ook onoorwonne, terwyl Ierland en Engeland baie goeie vertonings gelewer het,” laat Stywelip Carrington van hom hoor.
Hy wil nie krieket praat nie, want die Proteas wil maar net nie aan die gang teen die Aussies kom nie. “Dit krap. Ons is die voorste toetskrieketspan ter wêreld. Ons beskik oor die top-kolwers en –boulers, maar as ’n eenheid skiet ons keer op keer kort,” kla Botterbul Bester.

“Ek het julle voor die toer gewaarsku dat die Proteas kleitrap as Hashim Amla nie groot tellings opstapel nie,” sê Stywelip.
“Ek is ook teleurgestel, maar van more af kyk ek net gholf. Ons eie Louis Oosthuizen, Charl Schwartzel en Garth Mulroy moet die aanslag van veral die twee Engelsmanne, Justin Rose en Lee Westwood, in die Nedbank Uitdaag-toernooi afweer. Dit gaan soos die AngloBoere-oorlog wees met ’n Duitser, Italianer, Amerikaner en Sweed of twee om kaarte deurmekaar te krap. Dit gaan lekker wees,” laat Sporie Bezuidenhout van hom hoor.
Ja, die 2012-sportjaar is op sy rug, maar nog geensins verby nie.
Groetnis

No posts to display