E Copy

Date:

Kolskoot – 28 August 2014

Goeiedag

“Dankie tog, ons is terug in rugbyhemel. Daar in Engeland, in Salisbury, Winchester in die suide en Liverpool in die noorde, is daar net een sportsoort wat geld en dit is sokker of voetbal. Sommer met my aankoms in Suid-Afrika kon ek Saterdag, van 09:35 af tot 22:00, na internasionale en Curriebeker-rugby kyk,” begin Bontie Bonthuys ons indaba ná ’n onderbreking van drie weke.
Ja, Bontie, Stywelip Carrington en Sporie Bezuidenhout is terug in die land.
“Ek wil julle net inlig dat Botterbul Bester en ek net een halwe indaba gehou het. Die feit dat die Blou Bulle hul eerste twee Curriebeker-wedstryd verloor het, het Botterbul so omgesukkel gehad dat hy nie wou vergader nie. Ek kan darem verslag doen dat die Westelike Provinsie, Haaie en Goue Leeus die toon in die Curriebeker-reeks aangee, hoewel die Haaie baie gelukkig was om die Vrystaat-Cheethas in Durban te klop. Ek dink skeidsregter Rasta Rasivhenge en die televisieskeidsregter het ’n groot fout begaan om nie die Vrystaters se wendrie in beseringstyd toe te ken nie.
“Oom Sjert, ek was op Kingspark in Durban en moet saamstem, die Vrystaat-Cheethas was die beste span op die veld. Maar laat ek julle meer van ons oorsese besoek vertel. Ons al drie is nou ere-ondersteuners van Liverpool-sokkerklub. Ons dra die legedariese Liver Bird trots op ons bors nadat ons Liverpool se tuisveld, Anfield, besoek het en ook die begeleide toer meegemaak het. Dit is alles Sporie se skuld, want hy het so geneul dat ons eenvoudig moes gaan,” laat Stywelip van hom hoor.
“Manne, ons kan later oor ons besoek aan Engeland gesels. Daar is nog baie gholf en ander stories. Ek is ’n bekommerde man. Die gehalte rugby wat ons Suid-Afrikaanse spanne opdis, is power. Van skolevlak, tot by ons sukkelende Springbokke. Wat gaan aan?” wil Sporie weet.
“Ons het al op vorige indabas gewaarsku Suid-Afrika maak te veel op brute krag staat. En toe die Bokke hulle teen die Poemas se Bajada-skrums vasloop toe is daar geen plan B nie. Vingerpunt-hantering, afwisseling van spel en nuwighede bestaan nie meer by die Bokke nie. En volgende week wag die Wallabies en daarna die All Blacks. As die Bokke nie regruk nie wag ’n slagting,” praat Botterbul die eerste keer saam.
“Dit is Heyneke Meyer se Blou Bul-benadering wat by die Bokke deurslaan. Met skerp aanvallers soos Bryan Habana, Cornal Hendricks en Willie le Roux moet daar mos met die bal gehardloop word, maar nie die Bokke nie. Sal Jean de Villiers soos die All Blacks vanuit hul eie doelgebied ’n aanval begin? Kom ons wees eerlik, die Poemas het beter rugby as die Bokke gespeel en as Suid-Afrika se spel met die van Nieu-Seeland vergelyk word, lyk dit asof die Bokke en All Blacks van verskillende planete af kom,” borduur Bontie voort.

Skielik stem almal saam en elkeen wil ’n eiertjie lê.

Groetnis

Share post:

Popular

More like this
Related

Bloemfontein Zoo revamp progresses slowly amid budget constraints

Work is slowly progressing at the Bloemfontein Zoo, but...

Maintaining MMM’s 105 burial spaces ‘a mammoth task’

Residents of Bloemfontein have witnessed the deterioration of the...

Boiler breakdown delays patient meals at Universitas Academic Hospital

Patients at Universitas Academic Hospital have faced delays in...

A decline seen in residential burglaries in Mangaung

Residential burglaries in Mangaung have been an ongoing problem,...