Goeiedag
Daar heers eensgesindheid onder ons groepie. Die Bokke se spel teen die Eilandmanne op Loftus Versfeld het die manne stil, trots en tevrede.
En om die kroon te span het Ernie Els die sewende Suid-Afrikaner geword om vanjaar die Europese gholfreeks te wen. Die ‘Big Easy’ het die titel in die BMW- internasionale toernooi in München, Duitsland, met ’n enkele hou voor die neus van Thomas Björn weggeraap.
Die Junior Bokke kon nou wel nie hul rugbytitel in die IRR Junior Wêreldkampioenskap in Frankryk suksesvol verdedig nie, maar het derde geëindig deur die Baby Blacks van Nieu-Seeland 41-34 te klop.
Daar heers vrede, of immers 90% vrede, want Botterbul Bester was op Fort Loftus waar die Bokke die Samoane afgeransel het, maar wil nie bes gee oor Pierre Spies nie. Vyf manne glo hy moet plek vir ’n nuwe agtsteman maak, maar Botterbul aanvaar dit nie.
Soos Bontie Bonthuys verduidelik: “Spies kan baie meer as sy Bok-kontrakgeld verdien as ’n TV-maatskappy hom van een van daardie kopkameras, wat skeidsregters soms mee toegerus word, gee. Hy sal kykers ’n uitstekende naby-beeld van die spel gee, want hy is bykans nooit self betrokke nie.”
Botterbul is so vies dat hy net gholf wil praat. Dit is nou ’n sportsoort wat hy beskou as ’n lekker stappie in die natuur. “Die ‘Big Easy’ het gewys hy is dalk oud, maar nog lank nie koud nie.
Daarby het Lee-Anne Page tweede in die in die Allianz Slowaakse Ope geëindig,” probeer hy, maar niemand luister nie.
“Die Bokke en Junior Bokkies het vergoed vir die Protea-krieketspan wat uitgeskakel is in die Kampioentrofee.
Gelukkig het om Protea-vrouehokkiespan die Skottte geklop, maar nou wag ’n steil bult in die Wêreldliga-halfeindtoernooi in Engeland. Hier sal hulle moet uithaal om deur te kom,” gesels Stywelip Carrington.
“Ek hou duimvas dat die Protea-netbalspan onder aanvoering van Maryka Holtzhausen die Afrika-kampioenskap in Malawi wen,” laat oom Sjert van hom hoor.
“Kyk manne, ek het al my biltong en ander eetgoed reg vir die Wimbeldonse tennistoernooi en dié Saterdag begin Superrugby weer,” sê Sporie.
’n Soort van vrede heers dus, maar waarskynlik is dit van korte duur.
Groetnis
Date: