Goeiedag
“Kêrels, ek weet wraggies nie waarin ek die meeste teleurgestel is nie? Die Springbokke se powere vertoning en naelskraapse sege van 31-30 oor die Rooi Drake van Wallis in Nelspruit, of die Junior Bokke se naelbyt-nederlaag van 20-21 teen die jong Rose van Engeland in die Junior Wêreldkampioenskappe in Auckland Nieu-Seeland nie. Dit is om van te huil en het my skoon van my kos af, want daar is ’n slegte smaak in my mond,” begin Stywelip Carrington ons indaba op ’n treurige noot.
“Wag nou, Stywelip, jy klink of jy Winternag van Eugene Marais voordra. Dit is wel: ‘O treurig die wysie op die ooswind te maat’, maar dit kon erger gewees het. Ons kon teen die All Blacks of die Wallabies of selfs Engeland gespeel het. Dink julle in wat die telling dán sou gewees het?” probeer Botterbul Bester troos.
“Manne, moenie doekies omdraai nie. Die Bokke was swak, finish en klaar. Ons was gelukkig om te wen. Wat gaan gebeur as ons nie meer die dryfmaalbeweging van die lynstane af mag gebruik nie? Of as Willie le Roux sou seerkry? Hoe gaan die Bokke dan drieë druk? En onthou, ek dink nog altyd die dryfmaalbeweging, waar die baldraer beskerm word, is obstruksie en hoort nie in rugby nie,” lug Bontie Bonthuys sy mening.
“Bontie, ek stem saam, maar daar moet dieper gesoek word na die oorsaak. Saru se beleid dat oorsese spelers vir die Bokke beskikbaar is, moet heroorweeg word. Kyk nou wat gebeur. Ons moet Saterdag teen die Skotte ons foute regmaak, maar nou is Morné Steyn Bakkies Botha, Gurthrö Steenkamp, Schalk Brits, Francois Louw, Bryan Habana en Wynand Olivier skielik weens oorsese verpligtinge nie beskikbaar nie. Heyneke Meyer maak my ook deurmekaar. Hoe kan hy ’n slot soos Flip van der Merwe bo daai jong vuurvreter Lood de Jager inspan?” laat Sporie Bezuidenhout van hom hoor.
“Manne, onthou ons Protea-netbalspan het die Skotte pas 3-0 in ’n toetsreeks geklop, terwyl Wayde van Niekerk in die 400 meter in New York gewys het dat Suid-Afrikaners nog murg in hul pype het en ons swemmers ryg steeds die medaljes in. Hekkie “The Executioner” Budler het ook pas die strooigewig-wêreldbokstitel verower,” probeer oom Sjert die manne in ’n beter stemming kry.
Maar, watwou. “Ek het verlede week gewaarsku die Bokkies het so hittete ’n tweede sege oor die Junior All Blacks weggeskop en hulle het dit jou wrintie teen Engeland toe weer gedoen. Kan jy glo, 39 skoppe deur die Junior Bokke waarvan 18 swak was en net 21 positief was. Die enigste troos is dat Handré Pollard as Internasionale Junior Speler van die Jaar gekroon is en nou deur die Bokke opgeroep is.,” kla Stywelip voort.
Dit is net genoeg om die manne weer aan die stry te kry.
Groetnis.