Kolskoot – 26 February 2015

0
292

Goeiedag

Ses paar oë hou mekaar dop, maar nie een van ons wil die indaba begin nie. Die manne is bekommerd oor die Proteas se Wêreldbeker-krieketwedstryd môre in Sydney teen die Windies en wil nie sommer ’n mening waag nie, want in die verlede het die Proteas te dikwels onder druk gevou. “Ons vier top-kolwers, Hashim Amla, Quintin de Kock, Faf du Plessis en AB de Villiers, bekommer my. Teen Zimbabwe kon hulle net 62 lopies bymekaarskraap. Dit was David Miller en JP Duminy wat toe gered het. Sondag teen Indië het Du Plessis ’n vyftigtal gemoker, maar De Villiers is onnodig uitgehardloop, terwyl Amla en De Kock weer nie mas opgekom het nie en die gevolg is ’n nederlaag met 130 lopies. Die grootste nóg in ’n WB-wedstryd,” sit Stywelip Carrington die bal aan die rol. “Ons het nou wel die Windies 4-1 in Suid-Afrika getroef, maar met Vernon Philander beseer en Wayne Parnell wat ’n gemiddeld van 9.45 lopies in elk van sy nege boulbeurte teen Indië afgestaan het – die meeste nog deur ’n SA bouler in WB-toernooie – kan dit Vrydag vir die Proteas weer lol. Waar is Ryan McLaren?” vra Sporie Bezuidenhout. “Kêrels, ons moet bankvas agter die Proteas staan. Hulle kan weer op die wenpad kom. Vir my was die grootste teleurstelling die feit dat Retief Goosen in die Northern Trust-Ope in Amerika die kluts in die vierde en laaste gholfrondte met 75 houe kwytgeraak het. Na rondtes van 66, 70 en 69 was hy na drie rondtes die voorloper. James Hahan het egter met -6 houe geseëvier en Goosen moes met -4 die gesamentlike agste plek deel,” kla Bontie Bonthuys uit die Kaap. Oom Sjert verras deur rugby te gesels. “Geluk aan die Stormers, wat op die oomblik die pas in Superrugby aangee, terwyl die Haaie ook ’n klinkende sege van 29-12 in gietende reën teen die Leeus behaal het. Die Bulle het wel 13-17 teen die Hurricanes vasgeval, maar dit kon net sowel andersom gewees het. Die Bulle speel nou die naweek teen die Haaie en dit gaan ’n harde neut wees om te kraak. Ek is ook bekommerd. Die Toyota Cheetahs het wel die Haaie met uithalerspel geklop, maar Vrydag speel hulle in Bloemfontein teen die omgekrapte Blues van Nieu-Seeland. Dit gaan taai wees. Die Stormers het wel teen die Blues gewen, maar die besoekers het die grootste gedeelte van die stryd met net 14 spelers gespeel nadat Hayden Triggs weens ’n vuishou vroeg afgestuur is.” Dit gee Botterbul Bester ook moed. “Dit is nou reg of weg vir die Bulle en ek glo die draaipunt gaan teen die Haaie wees. Julle moet ook nie van die Sesnasie-reeks vergeet nie. Die twee onoorwonne voorlopers, Ierland en Engeland, pak mekaar in Dublin. Dit gaan ’n deurslaggewende stryd wees.”
Almal is verlig dat Botterbul weer ‘normaal’ is en hulle begin lekker redekawel.

Groetnis