Kolskoot 25 Julie 2012

0
625

Goeiedag
Wat ‘n asemrowende naweek was dit nie vir Suid-Afrikaanse sport nie. Dalk is dit ‘n voorskou vir wat wag tydens die Olimpiese Spele, wat oor twee dae in Londen begin. ‘n Mens mag hoop en die hoop beskaam mos nooit nie. Die kroon is waarskynlik gespan deur die Big Easy – Ernie Els, wat op verstommende wyse die Britse Ope wéér gewen het deur die titel weg te raap van sy groot vriend, Adam Scott van Australië. Kenmerkend het Els voor hy die gesogte trofee ontvang het eers meegevoel vir sy vriend, Scott, gevra. Daarna het hy sy gesin en beroepsmense wat hom onderskraag en help bedank. “Baie mense, sommer baie mense het gedink ek gaan nooit nie weer wen nie, maar ek het wonderlike hulp en ondersteuning van my familie en die professionele span om my gekry,” het hy gesê. Een van hulle is die oud-Bloemfonteiner, dr. Sherryl Calder, die hand-oog-koördinasie-spesialis wat al so baie sportlui in Suid-Afrika en die wêreld gehelp en ondersteun en op die wenpad geplaas het. Els vertel juis dat Sherryl die eerste keer toe sy met hom gepraat het, voorspel het dat hy weer een van die Grotes in gholf gaan wen en daar doen hy dit jou werklik weer Sondag. Dié uitmuntende prestasie is voorafgegaan deur vegterspel van die Suid-Afrikaanse krietspan in die eerste toets teen die Engelse op die Kia Oval in Londen. Eers was dit die Protea-boulers met Morné Morkel aan die spits wat die Engelse uitgeboender gekry het en toe volg daardie 100-tal van die Protea-kaptein, Graeme Smith, in sy 100ste toets. En nog is dit nie die einde nie, want Hashim Amla teken meer 311* aan – die hoogste toetstelling nóg deur ‘n Suid-Afrikaner en hy word ondersteun deur die gesoute Jacques Kallis met meer as 150 lopies in ‘n rekord-vennootskap om die derde paaltjie. Dit laat die voortreflike oorwinning wat die Sharks in Brisbane oor die Red behaal het om vir ‘n halfeindstryd teen die Stormers Saterdag op Nuweland te kwalifiseer minder belangrik lyk. Nogtans het Suid-Afrika in 2012 weer ‘n rugbyspan in die Super 15-reeks se eindstryd. Ons sportlui maak dit lekker om ‘n Suid-Afrikaner te wees!
Groetnis