Goeiedag
Vyf paar oë hou mekaar fyn dop. Niemand wil die indaba begin nie, maar al vyf manne het Springboktruie aan met swart roubande om die arms. ’n Begrafnisatmosfeer heers…
“Met die eerste skote wat verlede week in die Wêreldbeker-rugbytoernooi geklap het, het almal gedink dit is ’n skok toe Georgië vir Tonga 17-10 klop, maar niemand het die aardbewing van die Springbokke se nederlaag van 32-34 teen Japan verwag nie. Dit het nie net Suid-Afrika nie, maar die hele rugbywêreld geruk en geskud. En wat my bekommerd maak, is dat aardbewings náskokke het. Vir die Bokke wag náskokke in hul kragmetings teen Samoa, Skotland en die VSA. Die Bokke moet die oorblywende groepwedstryde wen om seker te wees van ’n plek in die kwarteindronde,” begin Stywelip Carrington die gesprek.
“Dit was ’n patetiese vertoning deur die Bokke en Heyneke Meyer het tereg die verantwoordelikheid aanvaar. Hy en sy bestuurspan is uitoorlê deur Eddie Jones-hulle. Dit het glad nie gelyk of Meyer en sy bestuurspan ’n studie van die Japanners gemaak het nie. Ek is baie dankbaar dat Jones aanstaande jaar die leisels as hoofafrigter by die Stormers in die Kaap oorneem. Hy het ’n uitstekende rekord as Wallaby-afrigter, asook van die Brumbies, Queensland en Saracens en was natuurlik ook die tegniese adviseur van die Bokke toe hulle die Webb Ellis-trofee ’n tweede keer in 2007 verower het,” praat Bontie Bonthuys saam.
“Ek dog die beroepswedders het voor die toernooi ’n fout gemaak toe hulle die Bokke net ’n 16%-kans gegee het om die Webb Ellis-trofee te wen, maar nou lyk dit asof hulle ’n baie beter ontleding van die Bokke gemaak het as wat Meyer van die Japanners gemaak het, want die Bokke is nou drie plekke laer in die sesde plek op die wêreldranglys,” kry Botterbul Bester ook ’n woordjie in.
“Ek weet die spelers het hulle nie self gekies nie, maar voor die toernooi is daar groot gewag gemaak van die gesoute leiers in die Bokke se groep. In Brighton teen Japan het Jean de Villiers, Victor Matfield en die ander ‘leiers” geskitter in hul afwesigheid, want swak besluitneming was een van die hoofredes vir die nederlaag. Dit gee my hoop dat ’n jong speler soos Lood de Jager met voorbeeld gelei het,” gee Oom Sjert sy mening.
“Die Bokke moet ophou om Blou Bul-rugby te speel en meer aanvallende spelers inspan. Ek hoop dat Damian de Allende en Jesse Kriel as senterpaar gekies word sodat ons buite-agterspelers nie weer staan en koud word Saterdag teen Samoa in Birmingham nie. Dit is nou te laat, maar ai, ek wens Meyer het Heinrich Brüssow en Marcell Coetzee as baljagters saamgeneem. Ek glo nog die Bokke kan die eindstryd haal,” lug Sporie Bezuidenhout sy mening.
Daar word nie eers oor die Curriebeker-reeks, Afrikaspele of Kovsies se sege oor die Tuks in die Varsity-netbalreeks gepraat nie. Kovsies is reeds SA se Varsitykampioene in rugby en kan dit ook in netbal word, maar dit skeel die manne min. Hulle is te bekommerd oor die Bokke.
Groetnis