Goeiedag
“Daar staan die Bledisloe-beker soos verwag in Kiwiland, maar een ding is seker, die All Blacks kon nie ’n wêreldrekord van agtereenvolgende toetsoorwinnings opstel nie en lyk ook nie meer as wêreldkampioene so onoorwinlik nie.“En wie moet ons bedank? Die Wallabies van Australië natuurlik,” probeer Botterbul Bester daar uit die Jakarandastad vergeefs die aandag van die Curriebekerreeks weg te kry.Dit slaag nie. Daarvoor het Bontie Bonthuys in die Kaap en veral Stywelip Carrington heeltemal te veel te sê oor onderskeidelik die KwaZulu-Natal Haaie se klinkende sege oor die Blou Bulle in Durban en die groot veggees, wat die Streeptruie aan die dag gelê het, om die Goue Leeus op Coca-Colapark as die houers van die Goue Beker te onttroon.Ou Stywelip het reeds die Curriebeker in die trofeëkas op Kingspark staan gemaak. “Ons speel tuis voor ons eie mense en soos Pat Lambie die losskakel-stryd teen Morné Steyn gewen het, het die agttal die geroemde Blou-voories met Bokke en al getem. Ons gaan die Kêrrie-koppie daar staan maak,” verduidelik hy die eindstryd Saterdag in Durban vooruit.“Wat wou. Die Weepee raak nou eers warm. Selfs sonder Jean de Villiers en Andries Bekker kon die begeesterde Leeus ons nie stuit nie. Ons span is soos ’n dieselenjin, wat reeds goed warm moet word, voordat hy behoorlik opdreef kom. Kyk maar wat Saterdag daar in die Haai-tenk gaan gebeur,” spog Bontie.Ons eie Boytjie van Despatch, Sporie Bezuidenhout, en oom Sjert van die Rosetad, wat hul eie onderlinge stryd voer oor die promosie-relegasie van die Oostelike Provinsie Kings en die Toyota Vrystaat Cheetahs praat nie so geesdriftig saam nie, want Vrydag is die buig of bars vir hul spanne in die Baai.“Tuiswedstryd-voordeel tel altyd. Veral in ’n eindstryd. Ek dink die Haaie kan die knoop hierdie keer deurhak,” ondersteun Sporie vir Stywelip.“Man ek gee aan daardie Kiwi-afrigter van die Haaie, Plumtree, volpunte. Hy het nie sommer wild en wakker sy gereelde Curriebekerspelers uitgegooi om vir die Bokke plek te maak nie. Hy pluk nou die vrugte van dié benadering om meeste van sy Bokke as impakspelers te gebruik,” lug Oom Sjert sy mening.En die Vrystaat-Cheetahs se stryd om promosie-relegasie? “Die waarheid seëvier altyd en kom ons wees eerlik die. Kings verdien nie ’n plek in die Premierliga of in Superrugby nie. Ek hou duim vas vir die Vrystaters. Hulle het verlede week gewys hulle is die beste,” verwoord Botterbul ons almal se mening.
Groetnis