Kolskoot – 24 July 2014

0
476

Goeiedag

“Hulle was krieket-ramkatte in Galle, Sri Lanka. Die Proteas verdien lof as ’n span onder leiding van die nuwe Protea-toetskaptein, Hashin Amla. Nou moet hulle net die uitklophou in die tweede en beslissende toets plant,” begin Bontie Bonthuys ons indaba. Hy mag, want hy is die voorsitter.
“Dit was ’n spanpoging soos min, maar daar is ’n paar manne wat uitgesonder moet word. Dale Steyn was uitmuntend. Sy nege paaltjies het Sri Lanka die doodskoot gegee en saam met hom het Morné Morkel die kenners laat mistas. Daar is voorspel dat die draaiers die sleutel tot sukses hou en toe was dit die naatboulers wat die groot verskil gemaak het,” laat Oom Sjert van hom hoor.
“Ja, maar moenie JP Duminy se veelsydige spel miskyk nie. Hy was puik met die kolf en die bal. Verskeie spelers het met die kolf uitgeblink, maar Quinton de Kock se vyftigtal en vertoning op paaltjiewagter behoort hom nog lank in die toetsspan te hou,” praat Sporie Bezuidenhout saam.
Botterbul Bester is nie tevrede nie. “Bontie gaan jy ons ’n kans gee om Superrugby en die Statebondspele te praat?” wil hy ergerlik weet. “Ek is baie dankbaar dat die Haaie deur is, maar hulle sal na ’n hoër rat moet oorskakel as hulle die Crusaders daar in Christchurch wil gaan klop. Die kragtige skrumwerk en dryfspel, asook Frans Steyn se skoen, het die Highlanders geknak, maar daar sal meer planne en afwisseling van spel moet wees as hulle in Nieu-Seeland wil wen,” gebruik Stywelip Carrington sy kans.
“Dit bekommer my dat daar net een span elk van Suid-Afrika en Nieu-Seeland in die halfeindronde is, terwyl die Aussies twee spanne, die Brumbies en Waratahs, daar het. Met die oog op aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi moet ons katvoet vir die Wallabies loop!” Die stelling van Botterbul laat ’n stilte neerdaal, want niemand hou van die gedagte nie.
“Statebondspele – wat is ons kanse op medaljes?” maak Bontie die vergadering oop vir bespreking.
“My hoop is op ons swemmers gevestig. Cameron van der Burgh, Chad le Clos, Karin Prinsloo, Myles Brown en selfs Roland Schoeman stel selde teleur. In atletiek gaan die stryd taai wees, maar ek dink ’n man soos Wayde van Niekerk gaan in die 400 verras, terwyl daar ander staatmakers soos Cornel Fredericks, Johan Cronjé, Sunette Viljoen en André Olivier is wat medaljekanse het,” sê Oom Sjert.
“Wag manne, die Statebondspele in Skotland is baie meer as net swem en atletiek. Ons Blitsbokke is in sewesrugby in aksie en die Proteas kan in hokkie en netbal ook goed vaar. Dan is daar ons skuts, boksers en nog talle ander sportsoorte waar Suid-Afrikaners hul staal kan toon. Ek kan nie meer wag nie,” praat Sporie opgewonde saam.
“Manne, julle het van gholf vergeet. Charl Schwartzel het goed gevaar in die Britse Ope,” probeer Botterbul weer. Die ander manne is egter vasgevang in hul Statebondspele-argumente en luister nie.

Groetnis