Kolskoot – 24 April 2013

0
422

Goeiedag
“Ek sien daai proffie van die Pukke sê Saru moet Bulletjie-rugby verbied. Ek dink nie dit is die kaalvoet-kannetjies wat stres nie. Dit is die ouers wat stres en dit dan op die jong bloedjies se skouers laai. Dit is die ouers wat vasgevat en verbied moet word,” begin Bontie Bonthuys uit die Kaap uit. Die Stormers het mos ’n loslootjie gehad.
“Ja, die kannetjies moet speel om dit te geniet. Sommer lekker sonder inmenging van die pa’s en ma’s. Nie net rugby nie, maar alle sportsoorte net vir die pure lekker daarvan,” praat Sporie Bezuidenhout van Despatch af.
Bontie wat ook op sy dag die water as ’n swemmer geklief het, is ook opgewonde oor die vertonings van SA se top-swemmers Chad le Clos, Roland Schoeman, Cameron van der Burgh en Myles Brown. “Hulle het vir die wêreldswemkampioenskappe in Barcelona gekwalifiseer ondanks die groen water en probleme met die swembad in die Baai. Welgedaan.”
“Ek glo ons almal dink dieselfde hieroor, maar moet nou nie wegskrum van Superrugby af nie. Die Bulle is nou eerste op die Suid-Afrikaanse puntelys nadat hulle eers die Cheetahs op Loftus en toe die Kings in die Baai gaan klop het. Ek dink nie hulle gaan weer maklik gestuit word nie,” spog Botterbul Bester vanuit die Jakarandastad.
“Ons het jou reeds verlede week gelukgewens en het buitendien geweet jy sal nie kan stilbly nie. Om die waarheid te sê is ek erg bekommerd oor die Sharks. Hulle moet gaan toer en soos hulle nou speel, wag daar slae op hulle daar doer onder,” erken Stywelip Carrington ruiterlik.
“Manne, vir my gaan dit oor meer as net die streekspanne. Die Bulle begin nou wel wen, maar hul spel maak my nog steeds nie opgewonde nie en hulle vorm die kern van Heyneke Meyer se Bokspan. Ek kan steeds nie verstaan waarom hy nie plek vir Gio Aplon, Willie le Roux, Lappies Labuschagne en Heinrich Brussöw in sy oefengroepe het nie.
“Ek weet hy kan nie almal nooi nie, maar gee veral die jong manne blootstelling,” laat oom Sjert van hom hoor.
“As dit oor die Bokke gaan, is ek ook bekommerd, want daar is heelwat gevestigde Bokke wat werklik nie goeie rugby speel nie. Binnekort is die oorsese spanne (Italië, Skotland en Samoa hier) en daarna wag die die Poemas, Wallabies en All Blacks. Meyer-hulle moet nou in rat begin kom,” laat Sporie weer van hom hoor.
“Wag manne, ek is ook bekommerd, maar kom ons gee ons Bok-bestuurspan ’n billike kans. Hulle is besig om die jonger talent nader te trek. Ons moet ook nie spelers ryp druk nie. Daar sit ons nou sonder Johan Goosen en hy was gewis as die toekomstige Bok-generaal geoormerk,” maan Bontie.
Nou gons dit weer want almal begin skielik weer hul eie Bok-spanne kies.
Groetnis