E Copy

Date:

Kolskoot – 23 October 2013

Goeiedag
“Ná Saterdag se Indiese Grand Prix kan Sebastian Vettel in sy Red Bull-renmotor in dieselfde asem as die grotes, die legendariese El Maestro Juan Fangio van Argentinië en Michael Schumacher van Duitsland, genoem word en as hy nie in Indië wen nie, gaan hy buitendien sy vierde Formule Een-wêreldtitel binnekort inpalm. Hy is ’n volle 90 punte voor Fernando Alonso van Ferrari,” begin Botterbul Bester weer ons indaba. “Botterbul, jou taktiek kry baard. Die naaste wat jy aan ’n renmotor gekom het, was toe jy daardie ou Fiatjie van jou oom ná skool gekry het en windmakerig rondgejaag het. Fiat besit mos Ferrari, of is dit andersom? Ons gaan nie oor Vettel praat nie. Aanvaar nou die Blou Bulle het dit nie gemaak nie,” knip Bontie Bonthuys hom kort.
“Manne, voor ons Curriebeker-eindstryd op Nuweland praat wil ek darem ’n lansie breek vir Chad le Clos. Ons swemmer is besig om die water in die wêreld aan die kook te swem. Beter as die Protea-krieketspan teen Pakistan,” laat Sporie Bezuidenhout van hom hoor. Hy kry, anders as Botterbul, die volmondige steun van almal.
“Nou vir die eindstryd. Wat sê julle? Wie gaan wen? vra Stywelip Carrington vir ’n stemming.
Dié KwaZulu-Nataller en Botterbul glo die Haaie het met Pat Lambie ’n goeie kans om die Streeptruie op Nuweland te onttroon as Suid-Afrika se rugbykampioen. Bontie en Sporie staan bankvas agter Jean de Villiers en sy manne.
Oom Sjert het die beslissende stem, maar hy is moedswillig. “Manne, die Poubloues moet weer in die Mbombela-stadion teen die Poemas van Mpumalanga wen in die promosie/relegasie-stryd. Dit is belangrik vir die Toyota Cheetahs se streek en die ewewig in ons rugby,” praat hy ander dinge.
“Goed, as dit by die Goue Beker kom, stem ek vir die Streeptruie. Die tuisveldvoordeel help, maar belangriker, hulle kan met teenaanvalle deur Gio Aplon en Cheslin Kolbe die goeie taktiese skopwerk van Lambie in gevaarlike teenaanvalle omskep. Daarby het hulle ook in Demetri Catrakilis ’n skopper van formaat,” gooi hy sy gewig agter die WP.
Dit is 3-2 vir WP.
Groetnis

Share post:

Popular

More like this
Related

Ondersteun Corban se stamselbehandeling

Corban Pretorius is op die ouderdom van 18 maande...

‘Robin in the Hood’ brings laughs and magic to the Rabbit Studio stage this June

Xander Art Productions, in association with The Rabbit Theatre...

Local short film ‘Vultures’ shines at Cannes

A local short film, “Vultures”, has soared to international...

PROMOSIE: ’n Kwarteeu van kuns en kultuur: Vrystaat Kunstefees vier 25 jaar

In die hart van die Vrystaat vier die Vrystaat...