Goeiedag
“Maggies, maar dit is lekker om die Aussies in krieket én rugby te klop! Ek weet die sege van 18-10 in die rugbytoets op Loftus Versfeld was geensins oortuigend nie, maar ’n wen is ’n wen. Die seges met ses paaltjies op Supersportpark en met 142 lopies op die Wanderers was so oortuigend as wat ’n mens kan kry. Dit is veral jongelinge soos Quinton de Kock (178 lopies) en Andile Phehlukwayo (4/44) wat my opgewonde maak.
“Ek weet die Aussies se krieketspan is nie op volsterkte nie, maar ons is in die Internasionale Eendagreeks ook sonder van ons top-eendagspelers,” begin Bontie Bonthuys ons indaba.
“Hokaai, Bontie. Moet nou nie weer die kar voor die perde inspan nie. Daar is nog drie krieketwedstryde op Kingsmead, St. Georgepark en op Nuweland teen die Aussies, én dan wag die toer daar Doer Onder. Ons het wel die Wallabies geklop, maar onthou, die All Blacks wag Saterdag op die Springbokke op Kingspark in Durban. Ek ys as ek dink wat die Nieu-Seelanders met ons steriele agterlyn gaan doen. As Morné Steyn dié keer skeef korrel, eindig ons saam met die Poemas onder op die puntelys,” bekla Sporie Bezuidenhout sy lot.
“Bly positief. Ons sportlui het ook, behalwe vir die krieket en rugby, die afgelope week elders uitgeblink. Chad le Clos en Myles Brown het in Beijing in Fina se Wêreldbeker-swemreeks onderskeidelik in die vlinderslag en vryslag die medaljes ingeryg. Daarby het ons eie Raven Klaasen saam met sy Amerikaanse dubbelspelmaat sy elfde tennistitel in die ATP-reeks in die Chengdu Ope verower,” probeer Oom Sjert die manne opbeur.
“Ek wil net die Vrystaat-Cheetahs, Blou Bulle, Westelike Provinsie en Goue Leeus gelukwens. Dié vier spanne pak mekaar aanstaande Saterdag in die halfeindronde van die Curriebeker-rugbyreeks. Die Cheetahs en Leeus se stryd in Bloemfontein om 17:00 gaan ’n ware riller wees. Die Streeptruie sal stukke beter moet speel as hulle die Blou Bulle in hul eie kraal op Loftus Versfeld om 15:00 wil klop. Hulle was gewis gelukkig om die Boland Kavaliers 30-28 te stuit,” laat Stywelip Carrington van hom hoor.
Voor die manne kan begin stry, gooi Sporie nog ’n klip in die bos: “Het julle gesien die keurders van die Barbarian Rugbyklub dink soos ons? Hulle het die Leeus se senter, Rohan Janse van Rensburg, genooi om vir die Barbarians op 5 November teen die Springbokke in die Wembley-stadion te speel. Sy spanmaat, Armand van der Merwe (haker), en die jong losskakel van die WP, Jean-Luc du Plessis, is ook genooi. Dit gaan baie interessant wees om te sien of Rohan, as hy die uitnodiging aanvaar, in die toekoms vir die Bokke ’n oplossing in die middelveld kan bied.”
“Ons Bok-breier, Allister Coetzee, maak my deurmekaar. Hy het nou vir Piet van Zyl in die plek van Rudi Paige (harsingskudding) in die Bok-groep ingesluit. Damian de Allende (senter) en Malcolm Marx (haker) is ook terug in die groep,” laat Bontie weer van hom hoor.
Skielik wil almal ’n eiertjie lê en ons besluit om sake kort te knip.
Groetnis