Kolskoot – 22 October 2015

0
Kolskoot – 22 October 2015

Goeiedag
Ons indaba is byna oor voordat dit begin het, want almal wil gelyk hul mening oor die Bokke, Proteas en Curriebeker-eindstryd uitspreek. Gelukkig kom Oom Sjert tot ons redding. Hy bepaal dat elkeen ’n beurt kry om sy sê oor die Bokke en die Wêreldbeker-rugbytoernooi te sê. Daarna volg krieket met die Proteas in Indië, die Curriebeker-rugbyeindstryd en dan enige ander sport. 
“Dis rugbyspanne van die Suidelike Halfrond wat in die WB-toernooi koning gekraai het. ’n Rugbykampioenskap in die kleine en dit is juis die Bokke se swak vertoning in dié rugbykampioenskap wat bekommer. Ons moet met meer ondernemingsgees speel en al ons sterk punte gebruik om die Nieu-Seelanders te klop. Ons moet ’n B-plan hê,” lug Stywelip Carrington sy mening.
“Ek steun die Bokke en glo ons kan die All Blacks klop as ons ál vyftien ons spelers reg inspan. Ons agttal kan oorheers, hoewel ’n baljagter makeer, ons skakelpaar kan dikteer en ons het uiters talentvolle aanvallende spelers soos Bryan Habana, JP Pietersen, Jessie Kriel, Damian de Allende en Willie le Roux. Dié spelers moet egter meer verbeeldingryk ingespan word,” verduidelik Sporie Bezuidenhout sy standpunt.
“Le Roux op heelagter is ’n probleem. Hy kan die aanvallende X-faktor wees, maar sy huiwerige spel onder die hoë bal gaan deur die All Blacks uitgebuit word. Moet ons hom nie vervang nie?” sê-vra Botterbul Bester.
“Moet julle nie blind staar teen die All Blacks se groot 62-13-sege oor die Franse nie. Onthou, die Walliesers moes 197 duikslae uitvoer om die Bokke te stuit. Dit het wel ’n uitmuntende stukkie spel deur Duane Vermeulen en die drie deur Fourie du Preez geverg om die knoop deur te hak, maar ek glo die Bokke kan beter,” sê Oom Sjert. 
“Samevattend glo julle die Bokke kan wen, maar dan sal hulle nie weer ’n eendimensionele patroon van stampkar-rugby met Schalk Burger voortdurend die eerste ontvanger moet speel nie. Ons moet ons aanvallende spelers beter inspan. Gebeur dit, kan die Bokke die eindstryd haal,” sê Bontie Bonthuys.
“Ek dink die Proteas kan vandag in Chennai in die vierde eendagwedstryd teen Indië die reeks in hul guns beklink, maar dan sal die kolwers nie weer ’n wind moet sluk nie en Quintin de Kock beter ondersteun. Ons veldwerk sal baie skerper moet wees. Morné Morkel het met sy boulwerk vergoed deur 4/39 te neem, maar sy twee verbroude vangskote is onverskoonbaar,” verander Stywelip die onderwerp.
Bontie en Botterbul wil nie krieket gesels nie. “Wie gaan die Curriebeker wen? Gaan die Goue Leeus onoorwonne die Goue Beker teen die Westelike Provinsie verower?” wil Botterbul weet.
“Weepee! Die Vrystaat-Cheetahs het gewys hoe die Leeus geklop kan word. Reken, hulle het vyf drieë daar in Johannesburg teen die Leeus gedruk. Die skopskoen van Marnitz Boshoff en daardie kaartmanblaser, Jaco van Heerden met sy geelkaarte, het die jong Vrystaters gesink. Die Vrystaters kon gewen het,” laat Bontie luid hoor.
Toe lug almal weer gelyk hul mening en ons moet afsluit.
Groetnis

 

No posts to display