Goeiedag
“Klein botteltjies het die grootste gif en Giniel de Villiers het dit weer bewys toe hy die 13de en laaste skof van die Dakartydren in sy Toyota Hilux gewen het om vierde algeheel te eindig. As dit nie vir die kragstuurprobleme in die eerste skof was nie, sou selfs die gesamentlike aanslag van die Mini’s hom nie van die podium in vanjaar se Dakar gehou het nie. Ek is trots op hom,” begin Sporie Bezuidenhout ons weeklikse indaba. “Ja, en moet nie van Riaan van Niekerk op sy KTM-motorfiets vergeet nie. Om algeheel 11de te eindig is nie te versmaai nie,” brei Botterbul Bester verder uit. “Ek is teleurgesteld. Ons enigste hoop in die Australiese Ope in Melbourne, Kevin Anderson, het hom weer teen daardie omgekrapte Tsjeg Tomas Berdych vasgeloop en hy kon weer nie die kwarteindronde van ’n Grand Slam-toernooi haal nie,” kla Bontie Bonyhuys van die Kaap af. “Berdych was eenvoudig beter. Hy was beweegliker en Anderson het te veel ongedwonge foute gemaak. Ek dink Anderson het sy gô in die vorige wedstryd teen die Fransman Edouard Roger-Vasselin uitgespeel,” probeer Oom Sjert vir Suid- Afrika se hemelbesem walgooi. “Vergeet dit. Vir my was die oorwinning wat Ana Ivanovic van Serwië oor die kampioen Serena Williams behaal het, die grootste skok. Nou is die titelpad waarskynlik oop vir die Belo-Rus Victoria Azarenka, hoewel daar nog ’n paar vroue is wat kan verras,” laat Stywelip Carrington van hom hoor. “Manne, dit is nie net op die tennisbaan waar dit met Suid-Afrikaanse sport lol nie. Nou lyk dit asof Engeland, Australië en Indië wil saamspan om die kitaar in wêreldkrieket te slaan. Ons nasionale manshokkie-afrigter, Charlie Pereira, het bedank en in atletiek loop dinge ook glad nie reg nie. Ek is bekommerd en die Aussies se krieketspan is ná hul segetog teen die Engelse op pad Suid-Afrika toe,” praat Sporie weer saam. “Kêrels, ek is ook oor heelwat dinge in Suid-Afrikaanse sport bekommerd en nou is Bafana Bafana ook weer in die Afrikanasies-sokker deur Mali en Nigerië uitgeskakel. Meeste dinge draai om geld en ons kan nie veel daaraan doen nie. Gelukkig is ons Proteas nog die nommer een in toetskrieket en hoef ons Bokke op die rugbyveld vir min spanne terug te staan,” probeer Bontie paai. Dit kry almal in ’n positiewe stemming en almal praat gelyk oor ons swemmers, gholf, netbal en natuurlik, ons krieket- en rugbyspelers.
Groetnis.