Goeiedag
Met die skouspel van die Olimpiese Spele in Londen, wat deurgaans op die kassie was en die Absa Curriebeker-rugbyreeks, wat pas afgeskop het, asook die derde en beslissende kriekettoets tussen Engeland en die Proteas wat vandeesweek op Lords begin, is dit ‘n ware geroesmoes wanneer my sportvriende met mekaar begin gesels. Dit is te verstane nadat Suid-Afrika drie goue, twee silwer en een bronsmedalje ingepalm het. Botterbul Bester, Stywelip Carrington, Sporie Bezuidenhout, Bontie Bonthuys en selfs oom Sjert in die Rosestad het hul nerwe behoorlik voor die kassie deurgesit. Die uwe ook, maar nie soos my makkers nie, want ek was vir ‘n paar dae in Engeland. Ongelukkig nie vir die Spele of die Proteas se tweede kriekettoets op Headingly nie, maar vir ‘n bruilof. Byna ‘n egte Suid-Afrikaanse bruilof. Die enigste verskil is dat sommige van die gaste en nuwe familie ‘n baie eienaardige Engels praat todat jy dit gewoond raak, want dan is dit asof jy tussen jou eie mense bruilof hou – op Amesbury by Salisbury, ‘n skrale 160 km van Londen af… Maar tyd vir bruilof én Spele was daar nie. Ek kon darem Suid-Afrika se goue medaljes-seges op die kassie dophou in ‘n land waar alles groen, versorg en bowenal skoon is. Raar maar waar! My ou makkers praat almal opwonde oor onse eie Cameron van der Burgh, Chad le Clos, Caster Semenya, die viere-roeispan en die kajakroeier, Bridgitte Hartley, asook die talle ongelooflike vertonings en rekords wat gespat het. Rugby bly so effens agterweë, maar nie heeltemal nie. Sporie van Despatch herinner almal dat hy Suid-Afrikaanse triomf in en op die water (drie goues en ‘n silwer) as ‘n man, wat as’t ware in ‘n plaasdam groot geword het, voorspel het. Hy erken ook hy het vasgenael gesit om die strandvlugbal en ritmiese gimnastiek en selfs daardie Daai-kwaai-ouens (Taekwondo) dop te hou. Stywelip langs die Haaiwaters brom steeds dat die Super15-eindstryd tussen die Sharks en Chiefs in Darwin, Australië moes plaasgevind het. “Dit sou regverdiger gewees het.” Niemand steur hulle aan hom nie en hy bieg dat hy die Jamaikaanse vetgesmeerde blitse, Usain Bolt en Yohan Blake, hom skoon van rugby laat vergeet het. Uit die Jakarandastad laat Botterbul almal proes van die lag. “Ek was op my dag self ‘n ruiter van formaat, maar die wyse waarop die Ingelse ruitermeisietjie, Charlotte Judardin, haar perd, Blue Berry, in die individuele dressage laat dans het, verdien ‘n goue medalje.” Ons ander verkneukel ons aan die gedagte van Botterbul op ‘n perd – so met sy korterige bene horisontaal met die grond!
Uit die Kaap word Bontie skoon kortasem as hy van die atletiek, stoei, boks, bergfiets, boogskiet en ander vertonings praat – vergete is die WP se tweede nederlaag teen die KwaZulu-Natallers. Oom Sjert som dit dalk die beste op met sy stelling dat die gehalte van die wêreld se sportlui elke vier jaar verbeter en dat van die vertonings niks minder as verstommend en asemrowend was nie. Groetnis