Kolskoot – 20 November 2014

0
331

Goeiedag

“Ek juig! Die Bokke is weer op die wenpad en veral omdat dit op die Engelse se hoofkwartier, Twickenham, voor meer as 80 000 Englese was. Dit was heerlik, maar my moed het amper in my skoene gesak toe Victor Matfield daardie geelkaart gekry het. Gelukkig het die Bokke hul veggees, durf en vaardighede gebruik, wat in Dublin teen die Iere so half afwesig was,” begin Sporie Bezuidenhout ons indaba.
“Ek is ook verheug oor die Bokke se sege, maar is sat rugby gepraat. Gholfpelers van minstens agt lande sal saam met Suid-Afrikaners mekaar die stryd op 4 Desember in die 2014 Nedbank Uitdaagtoernooi aansê. Hulle speel weer op die baan van die Gary Player-buiteklub by Sun City. Dit gaan vingerlek-lekker wees en ek en Bontie het reeds ons plekke bespreek,” verander Stywelip Carrington die onderwerp.
“Ja, ek sien daar sal verskeie van die wêreld se top-spelers in aksie wees. Die spelers, wat gewis sal speel, is die verdedigende kampioen, Thomas Bjørn (Den) asook verskeie van die seëvierende Europese Ryderbeker-wenners, Martin Kaymer (Duits), Lee Westwood (Eng), Victor Dubuisson (Fra), Jamie Donaldson (Wal), Stephen Gallacher (Skot) en Luke Donald (Eng) asook die immergroen Spanjaard Miguel Angel Jiminez en die Thailanders, Kiradech Aphibarnrat en Thongchai Jaidee. Suid-Afrika se aanslag sal deur die 2011 Amerikaanse Meesterskampioen, Charl Schwartzel, gelei word en hy sal steun van Dawie van der Walt en waarskynlik nog ’n paar groot kanonne kry. Ek wens Schwartzel kan die trofee vir Suid-Afrika verower. Hy was al verskeie kere binne trefafstand van die titel,” ondersteun Bontie hom.
“Jammer, maar daardie geloop agter ’n wit balletjie aan maak my nie opgewonde nie. Ek sien liewer uit na die Windies se kriekettoer hier in Suid-Afrika. Die feit dat manne soos Chris Gale, Kieron Pollard en veral daardie veelsydige Andre Russell van die Knights, en ander Windies besig is om hul voete in ons plaaslike T20-reeks te vind, maak my benoud,” kies Botterbul Bester sommer weer ’n nuwe rigting.
“Die reeks teen die Windies is die regte voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi, maar onthou, daar is nog internasionale eendag-wedstryde teen die Aussies wat gespeel moet word. Dit sal AB de Villiers en sy span groot selfvertroue gee as hulle die Aussies daar onder kan klop voordat hulle die Windies pak,” gesels Oom Sjert ook krieket.
Botterbul bly dwars en neig weer rugby toe. “Vir my was die vertoning van die jong spelers Cobus Reinach, Pat Lambie, Jan Serfontein en Willie le Roux ’n groot pluspunt in die Bok-sege. Daarby het Duane Vermeulen, Schalk Burger en Marcel Coetzee ook ’n barshou gespeel. Juan de Villiers en sy span moet nou nie op hul louere gaan rus nie en dalk sien ons nog ’n paar nuwelinge Saterdag in Padova teen Italië in aksie en dan wag die Rooi Drake in Cardiff.” Van die manne vererg hulle bloedig vir Botterbul en begin dadelik oor Novak Djokovic se verowering van die ATP-tennistitel in Londen en die Bafana se sokkersege oor Soedan praat.

Groetnis