Kolskoot 20 Februarie 2013

0
541

Goeiedag
“Dit was nou meer van ’n kriekettoets hier op Nuweland. My senuwees was op, maar die wyse waarop die Proteas hier teruggeveg het om die toets met vier paaltjies en die reeks 2-0 te beklink, was lekker. “Veral omdat Robin Peterson met die bal en kolf uitgeblink het. Hy verdien om Speler van die Wedstryd te wees. Jong, ek was benoud toe ons die paaltjies van AB de Villers en Faf du Plessis hier teen die einde verloor het,” babbel Bontie Bonthuys voordat iemand ’n woord kan inkry.

“Jong, jy spog nou sommer net oor Peterson. Vrydag wag die Bulle op julle op Loftus Versfeld en dan gaan daar geen genade wees nie,” probeer Botterbul Bester sy rugbyhou vroeg inkry. “Wag, manne, ons kan later rugby praat. Laat ons eers by Sporie hoor van die gholf in die Afrika Ope. Hy was mos in Oos-Londen,” stuur Oom Sjert ons indaba in ’n ander rigting. Bezuidenhout laat nie so ’n kans verby gaan nie. “Jong, die wind daar in Oos-Londen was nie ’n man se maat nie. Ek het amper ’n floute gekry toe Darren Fichardt hier teen die einde begin foute maak het. Gelukkig was dit nog ’n Suid-Afrikaner, Jaco van Zyl, wat hom opdraende gegee het. My senuwees en kuite was daarmee heen. Die kuite is steeds die ene knoppe met die gesukkel in die wind teen die steil bulte uit.
“Gelukkig het die Fransmannetjie Gregory Bourdy ook uitgesak en ek het geweet ’n Suid-Afrikaner gaan hierdie Europese Toer-titel wen. Dit het my laat vasbyt,” vertel hy.

Stywelip Carrington kan dit nie meer hou nie en begin sommer met Super15-rugby. “Manne, die Aussies se spanne het my nou nie te veel beïndruk nie. Ek kan nie meer wag vir Vrydag en Saterdag se wedstryde in Pretoria en Bloemfontein nie. Ons Sharks is lus vir Cheetah-vleis en ek dink die Stormers gaan die Bulls skoon uit hul kraal op Loftus waai,” voorspel hy. “Watwou uit die kraal waai. Die Kapenaars is pure wind. Dis hoekom almal hulle nou Brul-Stormers noem met so baie Leeus in hul kamp,” kap Botterbul terug.
“Wag manne. Gebruik julle verstand. Hier kom ’n ding vanjaar met die Suid-Afrikaanse spanne, wat sterk is. Ons moet onself net nie onderling so opkeil dat ons nie die Nieu-Seelanders kan stuit nie,” maan Oom Sjert en almal begin weer dink en praat nie eers oor Robyn en Lance Kime se seges in die Dusi nie.
Groetnis