Goeiedag
Dit is nag vir ons almal in Suid-Afrika ná die Bokke se tweede nederlaag en veral die Bok-afrigter, Heyneke Meyer, se besluitneming en hardkoppige volharding met dieselfde spelers, wat nie die mas opkom nie. Daar heers dus ’n ongemaklike stilte onder my ou sportmakkers totdat Bontie Bonthuys uit die Kaap dit verbreek: “Dink julle AB de Villers-hulle kan na 14 jaar die toernooitrofee-droogte in die Twintig20-wêreldtoernooi in Sri Lanka verbreek?” “Man dis mik, moker en mog dit troffe-krieket en niemand kan werklik voorspel wat gaan gebeur nie,” knip Stywelip Carrington hom kort, want hy wil rugby praat nadat die KwaZulu-Natallers die Streeptruie bloedneus gegee het. Verbasend is dit Botterbul Bester uit Pretoria wat die ys breek. “Nee Morné Steyn moet nou plek maak vir Johan Goosen. Hy kan nie sy senters in gate weggestuur kry nie, want hy speel te diep. Daarby skop hy balbesit weg en tref ook nie kol met sy stelskoppe nie. Uit en gedaan.” Oom Sjert in die Rosestad raak nie sommer omgekrap nie, maar hy stem saam. “Ons agttal het ons ’n kans gegee om die All Blacks te klop, maar ons skop balbesit doelloos weg. Dis mos nie hoe rugby gespeel word nie,” sê hy. Vir hom is Goosen ook die man om as Bok-losskakel oor te neem. “Die oomblik toe hy op die veld verskyn, het dinge gebeur. Hy het self ’n paar verdedigers geklop en Frans Steyn in ’n gaping weggestuur. Kies hom vir die beginspan.” Sporie Bezuidenhout is ook erg beswaard oor Dean Greyling, wat op onverklaarbare rede deur Meyer opgestuur is om Beast Mtawarira te vervang. “Man, hy was skaars op die veld toe staan hy die eerste van vier strafskoppe af. Dog hy het sy les geleer, maar nee toe duik hy oor ’n losskrum om Richie McCaw in die gesig by te kom en ontvang ’n geelkaart. Daarna verloor hy die bal in ’n lynstaan vyf meter van die All Blacks se doellyn af. Hy is gelukkig om net vir twee weke geskors te word!” Almal stem saam en dit gee Stywelip sy kans. “Wat sê julle nou van ons Haaitjies? Ons is bo saam met die Goue Leeus in die Curriebeker.” “Jy is reg – sáám met die Leeus, wat nie maklik van die Curriebeker gaan afstand doen nie en dit sal ’n lekker tong uitsteek wees aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, wat hulle uit Superrugby gegooi het,” laat Bonthys vinnig hoor. Almal is dit eens daar daar nog drie weke van klipharde en interessante Curriebeker-rugby wag.
Groetnis.