Kolskoot – 19 March 2015

0
659

Goeiedag

Dit is sinneloos om oor die Proteas se wedstryd in die kwarteindronde teen Sri Lanka in die Wêreldbeker-kriekettoernooi op die SCG in Australië te praat, want wanneer ons weer ons mening kan lug, is die wedstryd reeds verby. ’n Somber atmosfeer heers, want die manne is bekommerd oor van AB de Villiers en sy troepe. Dit is ’n die feit soos ’n koei dat Suid-Afrika sedert 1992 nog nie ’n enkele uitklopwedstryd in ’n WB-toernooi kon wen nie. “Kumar Sangakkara se breë kolf en die boulwerk van Lasith Malinga en Rangana Herath spook by my,” probeer Stywelip Carrington die indaba aan die gang te kry. Sporie Bezuidenhout probeer met Formule Een vuurmaak, maar dit is puur verniet. “Nee, Sporie. Die Grand Prix daar in Melbourne was soos die “gezoem van die bye”, sonder opwinding, en Lewis Hamilton en Nico Rossberg het onderskeidelik, soos ons almal verwag het, die eerste twee plekke in hul Mercedes-renmotors ingeneem. Nie eers Sebastian Vettel in sy Ferrari of Felipe Massa in sy Williams kon vuurwerk verseker nie. Net elf motors kon klaargemaak. Die volgende wedren is die Maleisiese Grand Prix, maar moet nie iets nuuts verwag nie,” knip Stywelip die gesprek kort.
“Kêrels, ek hoop net die Suid-Afrikaanse rugbyspanne in die Superrugby-reeks begin hierdie naweek weer behoorlik aan die gang kom. Die Stormers het weens ’n groot flater deur hul afrigtingspan 19-28 teen die Chiefs op Nuweland vasgeval. Dit was ’n blaps om die twee stutte, Steven Kitshoff en Vincent Koch, na ’n uur te vervang, want toe het die Nieu-Seelanders begin baljaar en gewys dat aanval steeds die beste verdediging is,” bekla Bontie Bonthuys sy Kaapse lot. “Ja, die Toyota Cheetahs moet Saterdag die omgekrapte Crusaders in Christchurch gaan pak en ek sien nie lig nie. Hul nederlaag van 10-29 teen die Haaie was ongetwyfeld hul swakste vertoning van die seisoen en dan moet julle onthou die Haaie was ook nie te waffers nie. Die Haaie pak Saterdag die Chiefs in Durban en die Leeus die Rebels in Melbourne en dit is geen maklike taak nie. Gelukkig het die Shimlas hier in Bloemfontein vergoed toe hulle die Ikeys 44-24 in die Varsitybeker-reeks afgestof het. Hulle is steeds die enigste onoorwonne span in die reeks, maar moet Maandag nog teen die Pukke speel, en dit is ’n taai neut. Nogtans het Franco Smith en Hendro Scholtz as breiers wondere met die span verrig,” laat Oom Sjert van hom hoor. “Moenie worry nie, manne. Ons Bulle en Pretorianers sal soos George Coetzee in die Tshwane Ope op die gholfbaan Suid-Afrika se naam op Loftus Versfeld hoog hou. Coetzee het in die Tshwane Ope sy tweede Europese titel verower nadat hy dit verlede jaar ook in die Jo’burg Ope reggekry het. Ek verwag ’n klinkende sege van Pierre Spies se Bulle teen die Western Force op Fort Loftus,” spog Botterbul Bester in die Jakarandastad.
Die ander manne vererg hulle so dat ons indaba summier beëindig word.

Groetnis.