Goeiedag
“Manne, ek het my Saterdag hier op Kingspark gate uit geniet. Die Bokke was met Willie le Roux aan die voorpunt in die eerste helfte manjifiek! Ek het die arme Drake van Wallis jammer gekry. Ongelukkig kon Victor Matfield en sy troepe dit nie in die twee helfte volhou nie, maar ’n toetssege van 38-16 is in enige taal uitstekend,” begin Stywelip Carrington ons weeklikse kuier opgewonde.
“Ja, en ons Junior Bokke het jou wrintie die Baba Blacks ’n tweede keer geklop om na die eindstryd van die Junior Wêreldkampioenskap teen die jong Engelse deur te dring,” voeg Botterbul Bester by.
“Ek weet ons spot oor Heyneke Meyer se Blou Bokke, maar besef jy, Oom Sjert, watter groot bydrae die kleinste rugbyunie in die land tot ons nasionale span maak? Ek het Saterdag getel. Daar was Saterdag 12 spelers in die Bokspan wat Vrystaatse bande het. Behalwe Gurthrö Steenkamp, wat sy 50ste toets gespeel het en Lood de Jager en Cornal Hendricks, wat hul toetsbuigings gemaak het, het die Du Plessis-broers, Bismarck en Jannie, Morné Steyn, Coenie Oosthuizen, Jan Serfontein, Duane Vermeulen, Ruan Pienaar, Johan Goosen en natuurlik Willie le Roux wat almal Cheethas is hul draai in die Vrystaat gemaak,” merk Bontie Bonthuys tot onsteltenis van Botterbul op.
“Ons ploeg nie met ander manne se kallers nie. Van die spelers het wasdom in ’n ander unies bereik. Ek staan agter die Bokke en is net trots dat Cheetahs ’n goeie bydrae lewer. Waaroor ek jammer is, is die feit dat ons nie die geld het om al ons jong spelers hier te hou nie en Saru help nie, want kyk wat het hulle nou weer met Frans Steyn gedoen,” gooi Oom Sjert wal.
“Ons moet ook nie te opgewonde raak nie. Onthou, die tweede toets teen die Drake wag Saterdag in Nelspruit, terwyl die Junior Bokke van Handré Pollard nog die jong Engelse, wat ’n bulspan het, moet tem. Die Junior Bokke het so hittete hul sege Sondag teen die jong All Blacks weggeskop,” waarsku Stywelip.
“Ek het ons rugbyspanne se seges geniet, maar ek is vodde, wat die laat kykery na die Amerikaanse Ope en die Wêreldbeker-sokker maak my klaar. In Amerika vaar ons manne, Garth Mulroy, Ernie Els, Retief Goosen en Louis Oosthuizen nie te waffers nie. En dit troos nie juis dat Suid-Afrika nie ’n sokkerspan in Brasilië het nie. Ek ondersteun nou Nederland. Die Hollanders het darem vir Spanje lekker opgekeil,” laat Sporie Bezuidenhout van hom hoor.
Daarmee is die vet in die vuur, want elke man het sy eie mening en Oom Sjert se beroep dat almal vandeesweek na die Proteas se netbaltoetse teen die Skotte moet kyk, val op dowe ore.
Groetnis.