Kolskoot – 19 February 2014

0
560

Goeiedag

“Manne, dit was ’n swart week vir Suid-Afrikaanse sport. Ek is seker dat selfs Oom Sjert nie vandag krieket of rugby wil gesels nie,” probeer Botterbul Bester vroeg in ons indaba vriende werf.
“Ek stem selde met Botterbul saam, maar die Proteas was daar in sy agterplaas in Centurion werklik pateties. Sommige van ons mees ervare kolwers, en dit sluit ons kaptein Graeme Smith in, lyk asof hulle nog nooit ’n krieketkolf vasgehou het nie. Ons manne, met die uitsondering van AB de Villiers, het Mitchell Johnson en al die Aussies soos kampioene laat lyk. Ek dink nie ons kan die toetsreeks ná die loesing meer red nie,” beaam Oom Sjert uit die Rosestad.
“Wel, ek het julle verlede week reeds gewaarsku dat die Aussies ons gaan opdons, maar ek is heel tevrede met die Haaie se begin teen die Bulle. ’n Bonuspunt-oorwinnning met vier drieë is nie te versmaai nie,” spog Stywelip Carrington.
“Kêrels, ek was ’n buitestander in die rugby, maar nie een van die vier Suid-Afrikaanse spanne het Saterdag juis gesag ingeboesem nie. Ek sien darem ons Protea-vrouehokkiespan is op die wenpad teen die Skotte.
“Daarby het Thomas Aiken die land se naam hoog gehou toe hy die Engelsman, Oliver Fischer, op die eerste uitspeelputjie in die Afrika Ope in Oos-Londen geklop het. Albei die het gholftoernooi in 20 houe minder as baansyfer voltooi,” probeer Sporie Bezuidenhout die onderwerp verander.
Puur verniet, want Bontie Bonthuys neem sy kans waar. “Ja, behalwe miskien vir die Haaie kan ek nie sien dat die Stormers te veel probleme plaaslik in die Super 15 gaan hê nie. Ons grootste problem gaan teen ons oorsese teenstanders wees.”
Daar is toe ’n onheilspellende stilte voordat Botterbul weer in die strik trap. “Julle Stormers moet nou nie rammetjie-uitnek raak nog voordat hulle gespeel het nie. Die Bulle gaan julle weer bloedneus gee.”
Die ander manne lag lekker.

Groetnis