Kolskoot – 18 September

0
738

Goeiedag
“’n Franse klug! Dit is waarin die rugbyskouspel van Springbokke teen die All Blacks op Edenpark in Auckland toe ontaard het. Ons het in 1937 laas daar gewen en toe befoeter daai Fransmannetjie, Romain Poite, alles en verloor ons met 14 man 29-15 teen die Nieu-Seelanders.” So begin ’n verontwaardige Bontie Bonthuys on weeklikse indaba.
Die manne is diep teleurgesteld en praat sommer van regstappe teen Poite en ook die Internasionale Rugbyraad, want het die Nieu-Seelander, Bryce Lawrence, nie die Bokke ook daar in Kiwiland in die Wêreldbeker-toernooi befoeter nie?
“Ek dink skeidsregters word te veel beskerm. Hulle moet gestraf word en beboet word. Selfs hier in Suid-Afrika kom die Jason Jafthas en Stuart Berries te maklik met swak beslissings weg. André Watson het altyd ’n verskoning vir sy blasers.
“Een swak beslissing laat ’n span verloor en dan is die koeël deur die kerk,” borduur Sporie Bezuidenhout daarop voor.
“Vir my gaan dit oor die feit dat ’n rugbyblaser twee assistant-skeidsregters en ’n TV-skeidsregter het om hom te help. Ek weet die spel is geweldig vinnig, maar met die beskikbare hulpmiddels behoort beter beslissings gemaak te word. Wat my verder pla, is dat daai Fransmannetjie op die groot skerm kon sien dat Bismarck du Plessis se plettervat op Dan Carter nie onwettig of gevaarlik was nie. Carter het wel by lê, maar dit was omdat hy hom in ’n stuk yster vasgeloop het,” laat Botterbul Bester van hom hoor.
Selfs Oom Sjert, wat gewoonlik koelkop is, is omgekrap, maar hy waarsku: “Ons praat nou van wraak op 5 Oktober op Ellispark teen die All Blacks, maar kom ons wees eerlik hulle het die eerste 20 minute beter as ons gespeel. Ons lakwerk en spel onder die hoë bal was nie na wense nie. Die jong losskakel, Beauden Barrett, was ook ’ n angel. Ons moet ligloop.”
“Vergeet dit. Die toets dit is verby. Wat my dwars in die krop steek is dat ons voorste tennisspeler, Kevin Anderson, ewe besoek by die Bokke gaan aflê het. Hy is nie beskikbaar vir ons Davisbeker-span nie, maar hy flikflooi (hy het ’m ander woord gebruik) by die Bokke. Dalk moet hy daarop let dat die wêreld se twee top-spelers, Novak Djokovic en Rafael Nadal, gereeld vir hul lande speel. Dit krap my erg om,” sê Stywelip Carrington.
Toe gons en knal dit soos die manne almal gelyk praat.
Groetnis