Goeiedag
“Ek het julle moes gesê die Curriebeker word nie in Augstus gewen nie!” val Botterbul Bester met die deur in die huis nadat die Blou Bulle met die Goue Leeus suid van die Jukskeirivier gemors het. “Moet nou nie té lawaaierig word nie. Daar wag nog twee weke van baie harde rugby voordat die Kêrriekoppie sy staanplek kry,” waarsku oom Sjert. Om vir elkeen ’n spreekbeurt te gee, is daar ook nie sprake van nie, almal praat tegelyk. “Ons OP Kings gaan boontoe. Dit is net die Vrystaat-Cheetahs wat nou in ons pad staan,” laat Sporie Bezuidenhout van hom daar uit Despatch se wêreld hoor. “Die Bokke het ons gered,” erken Bontie Bonthuys ruiterlik vanuit die Kaap. “Sporie jy moet briek aandraai, want die Vrystaters het nog murg in hul pype en dit is nie net van sommer opskuif nie. Julle gaan nie so maklik soos die Sourthern Kings in die Castle-rubykampioenskappe plek kry nie,” maan hy. “Ja, ons eindig eerste op die puntelys en dit sonder meeste van ons Bokke, maar vir my is dit die belangrikste dat meer as ’n handvol jong spelers hul merk vir die Haaie in die Curriebekerreeks gemaak het. “Daardie ratse Reinach is ’n goeie voorbeeld en in elke span was daar sulke jong sterre van die toekoms. Die Curriebekerreeks bly steeds baie belangrik,” sê Stywelip Carrington van die Haai-waters af. Name soos: Paul Jordaan, Marnus Schoeman, Philip van der Walt, Steven Kitshoff, Raymond Rhule, Marcel Brache, Marcel van der Merwe, Paul Willemse, Scarra Ntubeni, Carl Wegner, Marcel Brache en Lappies Labuschagne klink van alle rigtings af op. “Ja en moet asseblief nie van Pat Lambie vergeet nie. Hy het die afgelope tyd bittermin speelkans gekry, maar was die Haaie se generaal op losskakel teen die Poubloues. Hoop die Bokke se breiers het dit gesien,” sê Bontie. Dit is duidelik dat die Curriebekerreeks steeds ’n waardevolle voedingsbron vir rugby is. Nou moet daar net plan gemaak word dat meer toeskouers die wedstryde bywoon. “Moet die Bokke nie maar uit die reeks gehou word nie? Dit sal baie meer regverdig wees,” gooi oom Sjert ’n klip in die bos.
Groetnis