Kolskoot – 17 March 2014

0
327
Goeiedag

“Ek is steeds hartseer. Nie net oor die Stormers nie, maar oor ons top-tennisspeler, Kevin Anderson. Hy het verlede week slegs sy vyfde sege oor een van die wêreld se toptien spelers behaal, toe hy die Australiese Ope kampioen van Switserland, Stan Wawrinka, in die vierde rondte van die Indian Wells Meesters in Amerika 7-6, 4-6 en 6-2 geklop het. Ongelukkig het hy in die kwarteindronde teen nog ’n Switser, Roger Federer, 7-5, 6-1 vasgeval.

“Anderson behoort sy 18de posisie op die wêreldranglys hiermee te verbeter, maar is steeds nie vir Suid-Afrika in die Davisbeker-kompetisie beskikbaar is nie. Hy het ná sy sege oor Wawrinka gesê dat hy Amerikaanse burgerskap gaan verkry en dit terwyl ons Davisbeker-kaptein, John-Laffnie de Jager, sukkel om ’n gedugte Protea-span saam te stel,” begin Bontie Bonthuys ons indaba met ’n klaaglied.

“Bontie moenie laf wees nie én jy móét saam met Oom Sjert oor die Stormers en Cheetahs bekommend wees. Tennis is Anderson se werk en loopbaan, Hy is getroud met ’n Amerikaner en woon daar en verdien sy geld oorsee. Dit is nie meer die amateur-dae nie en buitendien is hier geen toernooie van gehalte in ons land nie. Jou Stormers stel erg teleur. Ek weet die Chiefs is die huidige Superrugby-kampioen, maar die wyse waarop hulle vyf drieë gedruk het teen ’n span, wat wemel van die Bokke, is kommerwekkend,” wys Botterbul Bester hom tereg.

“Verlede jaar het die Frane oorheers en nou begin die Duitsers in 2014 met ’n vroeë aanslag dit is ’n interessante seisoen wat wag,” laat Sporie Bezuidenhout uit die bloute van hom hoor. Niemand reageer nie, want on weet nie rerig waarvan hy praat nie.

“Formule Ee-wedrenne. Het julle nie gesien hoe Nico Rosberg in sy Mercedes in Melbourne die Australiese Grand Prix wen nie, terwyl McLaren-Mercedes met Kevin Magnussen agter die stuur derde geëindig het. Die Aussie Daniel Ricciardo het Renault se naam in sy Red Bull-renmotor hoog gehou deur tweede te eindig, maar hy is gediskwalifiseer en Jenson Button van McLaren-Mercedes neem sy plek op die podium.

Ek dink Mercedes kon met ’n groot aanslag,” verduidelik hy. Die ander manne wil nie byt nie.

“Bontie daar is darem lig vir Oom Sjert in die tonnel, want ek sien die Chevrolet Knights het die Kaapse Kobras oortuigend geklop. Dit help, maar ek ys as ek daaraan dink dat die Proteas reeds Saterdag in die Wêreld T20-kriekettoernooi in Chittagong, Bangladesh speel nadat die Aussies ons so afgeransel het,” probeer Stywelip Carrington troos, en sluit ons gesprek rustig af omdat die Bulle nie gespeel het nie en oom Sjert nie rugby wil praat nie.

Groetnis.