Goeiedag
“Kêrels, ek weet ek moet die voorsitterstoel aan Stywelip Carrington oorhandig, maar terwyl ek hier is, wil ek my sê sê oor die Cheetahs,” begin Oom Sjert ons indaba op ’n verrassende wyse.
Eers is daar ’n stilte, maar toe vat Stywelip die leisels vas. “Regso, maar daar is versoeke oor krieket, atletiek, sokker en gholf, wat aandag moet geniet,” beslis die nuwe stoel.
“Ek is op moedverloor se vlakte. Nie net is die Cheetahs, propvol Bokke,deur die Leeus aan flarde gespeel nie, maar dit lyk my die Cheetahs is besig om soos ’n kaarthuis in duie te stort. Spelers spat wyd en syd weg van die Cheetahs af.
“Iewers is ’n skroef los. Iemand moet verantwoordelikheid neem. Verlede jaar het ons met bykans dieselfde span die uitspeelronde van die Superrugbyreeks gehaal en vanjaar lewer ons talle nuwe Bokke op, maar eindig tweedelaaste op die puntelys!
“Ek het vroeër gewaarsku daar is groot probleme met ons skrumwerk. Reken, spelers wat vroeër vir die Cheetahs beskikbaar was, keil ons manne nou op. Pas het Schalk van der Merwe, loskop van die Leeus, vir Coenie Oosthuizen laat stof eet. Voor hom was daar Lourens Adriaanse as vasskop en dan praat ek nie eens van Marcel van der Merwe, WP Nel en Jannie du Plessis nie. Almal gedy elders. Nou lyk dit of Trevor Nyakane ook op pad is. Wie neem die besluit oor ons stutte?” wil Oom Sjert verslae weet.
“As ’n ou voorryman kan ek net sê: ‘daar’s fout in Cheetah-land’. Gelukkig het die Bulle die seisoen met ’n sege afgesluit, maar ek is bekommerd oor SA rugby. Net die Haaie is onder die top-ses. Dit is net nie goed genoeg nie,” laat Botterbul Bester van hom hoor.
“Ek is dankbaar die Haaie het deurgedring, maar is bekommerd oor hul kanse, want daar word te veel op Frans Steyn se skopskoen en kragrugby gesteun. Met sulke spel gaan hulle nie die eindstryd haal nie. Maar nou is dit Bontie se beurt,” beslis die voorsitter.
“Uiteindelik het die Proteas onder leiding van AB de Villiers die Sri-Lankane in ’n eendag-reeks in Sri-Lanka geklop. De Villiers, Hashim Amla, Quinton de Kock, Ryan McLaren, Imran Tahir, sommer almal, was uitmuntend. Dis lekker. Ek hoop hulle kan dit ook in die toetsreeks vermag, maar plan sal met Jacques Kallis gemaak moet word,” juig Bontie uit die Kaap.
“Ek is lus vir die Statebondspele in Glasgow, Skotland. Atlete soos André Olivier en Johan Cronjé kan hulle laat geld. Hul tweede en vierde plekke in die Diamant-liga in die 800 en 1 500 onderskeidelik is nie te versmaai nie. Dit lyk nou asof ons nie net op ons swemmers hoef staat te maak vir medaljes nie,” kom Botterbul weer tussenin.
“Manne, wat van die sokker? Duitsland, bo en my Hollanders het derde geëindig, wat sê julle daarvan?” probeer Sporie vergeefs, maar die ander manne wil nie oor die ronnebol-spel praat nie.
Groetnis.