E Copy

Date:

Kolskoot – 17 Julie 2013

Goeiedag
Hoop beskaam nie. Daarom is ons groepie positief oor die komende week se sport. Die Toyota Cheetahs is reeds in Autralasië waar hulle regmaak vir Sondag se kragmeting teen die Brumbies in Canberra en op Muirfield in Skotland slaan nie minder nie as tien Suid-Afrikaners in die Britse Ope af.
Die hele Suid-Afrika staan bankvas agter die Cheetahs, want hulle verteenwoordig ons land Doer Onder in ’n uitspeelwedstryd van die 2013 Superrugby-reeks.
Die Bulle is tweede op die algehele puntelys en rus dus hierdie week. Daarom is selfs die eenogige Botterbul Bester vierkantig agter die Cheetahs.
Met minstens nege Suid-Afrikaners, Ernie Els, Louis Oosthuizen, Charl Scwhartzel, Tim Clark, George Coetzee, Thomas Aiken, Richard Sterne, Justin Harding en Darryn Lloyd, wat saam met Branden Grace in die Britse Ope afslaan, gaan ons onsself weer kisboude voor die kassie sit. Branden is immers Sondag in die Skotse Ope eers in ’n valbystryd deur Phil Mickelson geklop nadat albei die toernooi in 17 houe minder as baansyfer voltooi het.
Suid-Afrika smag weer na ’n groot sportsege, soos om een van gholf se grotes te wen of om twee spanne in die halfeindronde van die Superrugby-reeks te hê.
“Manne, die Suid-Afrikaners kan dit doen. Ons het immers twee Britse Ope-kampioene, Els en Oosthuizen, in ons geledere en as dit nie vir ’n afsnypunt van 60 jaar was nie, sou Gary Player ook daar gewees het,” lug Stywelip Carrington sy mening.
“Ja, en ons tennisspelers, Kevin Anderson en Chani Scheepers, het gewys dat ons hier aan die suidpunt van Afrika baie veggees het. Dit is tyd dat ’n Suid-Afrikaner weer wys ons kan gholf speel,” sê Bontie Bonthuys uit die Kaap.
“Ons jong sportlui het my trots gemaak met hul elf medaljes waarvan vyf goud op die Wêreldstudentespele in Kazan, Rusland. En dan wou Saskok hulle aanvanklik nie eers laat deelneem nie,” sê Sporie Bezuidenhout.
“Ek hoop, maar my senuwees keil my op, en dit is nog ver Sondag toe. Gelukkig gebeur daar wonderlike dinge in sport. Kyk nou maar daardie 19-jarige Aussie, Ashton Agar, wat in sy debuuttoets die Engelse op Trentbridge so opgekeil het en die krieketwêreld aan sy voete gehad het. Engeland het die eerste toets met ‘n skrale 14 lopies gewen en dit was enduit spannend,” sluit oom Sjert ons indaba af.
Groetnis

Share post:

Popular

More like this
Related

Ondersteun Corban se stamselbehandeling

Corban Pretorius is op die ouderdom van 18 maande...

‘Robin in the Hood’ brings laughs and magic to the Rabbit Studio stage this June

Xander Art Productions, in association with The Rabbit Theatre...

Local short film ‘Vultures’ shines at Cannes

A local short film, “Vultures”, has soared to international...

PROMOSIE: ’n Kwarteeu van kuns en kultuur: Vrystaat Kunstefees vier 25 jaar

In die hart van die Vrystaat vier die Vrystaat...