Goeiedag
“Drie seges vir Suid-Afrikaanse spanne in die Superrugby-reeks. Daar kón net drie wees, want in twee wedstryde moes daar ongelukkig verloorders wees. Hierdie keer was die Cheetahs en Sharks aan die verloorkant. Dit was nietemin klipharde wedstryde en selfs die verloorders het met eer teen die Bulls en Stormers uit die stryd getree,” begin Oom Sjert ons weeklikse gesprek.
“Hoor, hoor!” klink dit van alle kante op. “Ja en moenie vergeet nie, ons moet dit nou erken: die Kings verdien hul plek in die reeks. Hul sege oor die Rebels het ’n waarskuwing aan die ander Suid-Afrikaanse spanne gerig,” laat Sporie Bezuidenhout van Desptach af van hom hoor.
“Wag nou manne, julle wou mos die Stormers afskryf en toe beëindig hulle die Haaitjies se segetog op Nuweland,” sê Bontie Bonthuys vermakerig uit die Kaap.
“Ja, en julle het gedink die Blou Bulle se Bulls sal op hul 75ste verjaardag teen die Cheetahs op Loftus Versfeld vasval, maar toe word die Cheetahs se snorbaarde getrek,” klim Botterbul Bester ook op die streekswa.
“Kom ons vergeet ’n bietjie van ons eie spanne. Geluk aan die die Kings, Bulls en Stormers, hoewel ek dink die tuisveld-voordeel het dalk net die skaal in die Bulls en Stormers se guns geswaai. Ons moet kennis neem van die feit dat twee van die All Blacks se top-spanne, Chiefs en Crusaders, deur onderskeidelik die Aussies se Reds en Force, geklop is. Die Aussies drink nie meer aan die agterste speen nie,” swaai Stywelip Carrinton die gesprek in ’n ander rigting.
“Ek dink die sogenaamde plaaslike derbies wys daar is aspekte van Suid-Afrikaanse rugby wat sterk en reg is, maar ons agterlynspel bekommer my. Ons kweek net skoppende losskakels en meeste van ons agterspelers speel stampkar-rugby. Talentvolle binnesenters soos die jong Jan Serfontein en Frans Steyn is nou stormramme, terwyl baie belowende buiteagterspelers nie hardloopkans kry nie. Die uitsondering is die Cheetahs en Stormers. Daar moet plan gemaak word,” sê oom Sjert.
Selfs Botterbul moet hiermee saamstem en daarom begin hy toe sommer gholf praat. “Ons Suid-Afrikaners het toe nie heeltemal aan die verwagting voldoen nie, maar Tim Clark, Charl Schwartzel, Ernie Els, Trevor Immelman, Branden Grace en Richard Sterne het darem die valbyl na die tweede ronde oorleef, hoewel Louis Oosthuizen en George Coetzee nie kon nie. Dis jammer, maar geluk aan Adam Scott, al is hy ’n Aussie.”
Groetnis