Kolskoot – 16 October 2014

0
497

Goeiedag

“Manne ek is verslae. Platgeslaan. Die wyse waarop die Goue Leeus op Ellispark 47-7 met die Vrystaat Cheetahs gemors het, is net een te veel. Daar sal opgetree moet word, want Griekwas is op Loftus Versfeld ook deur die Blou Bulle 46-12 verneder. Die twee verloorspanne vorm die kern van die Toyota Cheetahs en met so ’n kern bou ons mos op klei vir die Superrugby-reeks aanstaande jaar,” begin Oom Sjert ons indaba.
“Ek was op my dag ’n agterspeler, maar selfs ek weet as ’n span nie kan skrum en verdedig nie kan hy nie sukses behaal nie. Die Vrystaters, wat met drie Springbokke, Oupa Mohoje, Lood de Jager en Trevor Nyakane, versterk was, is in die skrums vermorsel. Van die 13 strafskoppe wat deur die Vrystaters afgestaan is, was die helfte vir skrumoortredings.
Op loskop kon Caylib Oosthuizen eenvoudig nie die mas opkom nie. Om alles te kroon het die Vrystaters meer as 20 kritieke laagvatte verbrou. Dit is net nie goed genoeg nie. Die Cheetahs verloor onder andere spelers soos Adriaan Strauss en Nyakane in die voorry en sien ek onder die aanwinste vir 2015 net een stut, BG Uys. Wat gaan aan? Al wat my nog aan die gang hou, is die feit dat die Kovsies onder aanvoering van Karla Mostert weer na die Varsitynetbal-eindstryd deurgedring het deur die Pukke te klop,” sluit Oom Sjert sy treurmare af.
“Oom Sjert, my hart bloei vir jou, maar ek moet jou punte gee vir die feit dat jy voorspel het dat die Blou Bulle nog vanjaar die Curriebeker gaan wen en ons is nou in die halfeindronde. Ongelukkig vir julle Vrystaters moet die Kovsies nou hul Varsitytitel teen Tuks verdedig,” spog Botterbul Bester subtiel vanuit die Jakarandastad.
“Jammer, ek het nie soveel selfvertroue soos Botterbul nie. Ek weet die Haaie het ’n baie hoë hekkie om te oorkom wanneer hulle die omgesukkelde Goue Leeus Saterdag op Ellispark pak. Tera Mtembu en sy manne sal nie net op Fred Zeilinga se skopskoen kan staatmaak om te wen nie en na my mening gaan die ander halfeindstryd tussen die Streeptruie en Blou Bulle op Nuweland ook baie gelykop wees,” voorspel Stywelip Carrington.
“Ek stem saam. Ons Streeptruie sal op hul heel beste moet wees om die Bloues te stuit. Veral daardie jong Bok-losskakel, Handré Pollard, is ’n gevaarlike wedstrydwenner. Ek het egter vertroue in my span,” laat Bontie Bonthuys van hom hoor.
“Vir my was die OP Kings se naelskraapse sege oor die Pumas ’n hoogtepunt. Ek wil julle daarop wys dat die Bafana ’n klinkende 2-0 sege oor Kongo behaal het. Retief Goosen het ook in Amerika op die gholfbaan in die Frys.com Ope gesamentlike derde net drie houe agter die wenner Sang-Moon Bae geëindig,” begin Sporie Bezuidenhout ook saamgesels.
Sporie se voorspelling dat die WP en die Goue Leeus na die Curriebeker-eindstryd gaan deurdring, ontketen egter ’n warm styery.

Groetnis