Goeiedag
“Waaroor gesels ons? Rugby, krieket, tennis of atletiek? Daar het so baie dinge die afgelope week gebeur dat ek nie kan byhou nie. Wat sê julle?” begin Sporie Bezuidenhout ons indaba.
“Die Springbokke het verras. Daar was nuwe lewe in die span teen ’n Wêreld XV op Nuweland. Dit lyk my Heyneke Meyer het uiteindelik van sy geykte, voorspelbare en voorskriflike spelpatroon afgewyk en Damian de Allende was ongetwyfeld die groot uitblinker in die middelveld,” begin Bontie Bonthuys rugby gesels.
“Behalwe De Allende het Eben Etsebeth, Marcel Coetzee, Ruan Pienaar en die jong Jesse Kriel ’n barshou gespeel. Van die plaasvervangers was ook puik en dit is wonderlik om Jean de Villiers terug op die veld te sien. Ons het gewis ’n kern waarop ons kan bou,” brei Oom Sjert uit.
“Moenie te opgewonde raak nie. ’n Wêreld XV is geen ware toets nie. Saterdag se toets teen die Wallabies in Australië is die ware Jakob en ons sal dan sien hoe die Bokke lyk. Dit is vir my insiggewend dat Meyer oorweeg om Morné Steyn en Pat Lambie onderskeidelik bo Handré Pollard en Willie le Roux as losskakel en heelagter in te span,” praat Stywelip Carrington saam.
“Skopwerk. Takties en pale toe het gewis ’n rol gespeel in Meyer se besluit oor Steyn en Lambie. Onthou Dan Carter, wat ook lank in die tand raak, het die All Blacks met sy skopwerk teen Samoa in Apia (25-16) van ’n nederlaag gered,” lug Botterbul Bester sy mening.
“Die Proteas het ongelukkig die tweede van drie internasionale eendagkrieketwedstryde teen Bangladesj verloor, maar ’n gelapte span het ons gelukkig die T20-reeks en die eerste eendagwedstryd gewen.
“Dit is veral Kagiso Rabada se boulwerk in die eerste eendagwedstryd toe hy ’n driekuns behaal het om uitmuntende syfers van 6/16 te eindig, wat my in die afwesigheid van Dale Steyn en Morné Morkel opgewonde maak. Ons kolwers, Hashim Amla en Quinten de Kock, sal hul sokkies moet optrek, terwyl David Miller ook teleurstel,” verander Stywelip die onderwerp.
Almal wil nie krieket gesels nie. “Verder, hoër en vinniger is die mikpunt van atlete wêreldwyd. Ons Suid-Afrikaners het ongetwyfeld die ‘vinniger’ as mikpunt met die Tuks-naellopers, Henricho Bruintjies en Akani Simbine, wat die pas aangee. Dan is daar ook nog Carina Horn, Anaso Jobodwana, LJ van Zyl, Wenda Nel, Justine Palframan en Rynardt van Rensburg wat oor die wêreld uitblink. Met die ‘verder’ gee Sunette Viljoen die toon in spiesgooi aan, maar as dit by ‘hoër’ kom is dit duidelik dat ons nie meer ’n Hestrie Cloete, Jacques Freitag en ’n Okkert Brits het nie. Dis jammer,” gesels Oom Sjert.
“Julle het vergeet van die tennis op Wimbledon. Die titels wat Serena Williams en Novak Djokovic verower het, is verwag. Ek dink onse Kevin Anderson se vyfstel-stryd teen Djokovic was ’n hoogtepunt. Dit was hittete of Anderson het een van die grootste skokke in baie jare gelewer,” lug Bontie sy mening.
Eienaardig genoeg stem almal saam en sluit ons in harmonie af.
Groetnis