Goeiedag
Hulle sê: “Bieg is goed vir die siel.” Kom ons hoop dit is die geval met die gevalle held en kampioen-fietsryer, Lance Armstong, wat môre op die kletskoninging, Oprah Winfrey, se TV-program gaan praat oor sy skorsing uit wêreldfietsry en stroping van sy Tour de France-titels.
Die Amerikaner het fietsry as geloofwaardige sportsoort ’n geweldige knou toegedien weens sy gebruik van opkikkers.
Op die hakke van die skandaal is Suid-Afrika se eie David George ook geskors weens opkikker-verneukery.
Net asof dit nie genoeg is nie, het ons land se Olimpiese bergfietsryer, Burry Stander, op tragiese wyse gesterf toe hy deur ’n taxi getref is. Stander was gewis ’n Olimpiese medaljekandidaat vir die volgende Spele in 2016 in Brasilië.
Nieteenstaande die terugslae, groei fietsry in sy verskillende vorme in Suid-Afrika en wêreldwyd. Daarom is dit ’n riem onder die hart dat Vrystaat Fietsry alles in sy vermoë doen om deelnemers teen gevare te beskerm.
Om veiligheid te verseker, is oefengriewe bekom om deelnemers in ’n veilige omgewing te laat oefen. Wedrenne word ook so veilig as moontlik gemaak.
Intussen is sport reeds volstoom aan die gang na die effense vakansie-rus. Die Protea-krieketspelers van Graeme Smith, en vroeër in die T20-reeks onder aanvoering van Faf du Plessis, is besig om die Kiwi’s behoorlik op te dons. Dis lekker!
Geniel de Villiers en die ander Suid-Afrikaners hou die land se naam hoog in die Dakar-tydren, terwyl Kevin Anderson so hittete ’n tennistitel in Australië verower het.
Almal hou duim vas dat hy en Chani Scheepers van vandeesweek af goed in die Australiese Ope in Melbourne sal vaar.
Gedurende die vakansie het ek die rondte van Vader Cloete gedoen en al my ou sportmakkers, Sporie Bezuidenhot in Despatch, Bontie Bonthuys in die Kaap, Stywelip Carrington by die Haai-waters, Botterbul Bester noord van die Jukskei-rivier en natuurlik Oom Gert tuis in die Rosestad besoek om seker te maak van hul welstand.
Hoewel sommiges van hulle eelte gesit is voor die kassie vir die krieket, Dakar, tennis en gholf het van hulle darem van die krieketwedstryde en gholftoernooie bygewoon. Stywelip was daar toe onse Louis Oosthuizen die Volvo-kampioentoernooi in Durban met ’n skitterende terugvegpoging met ’n enkele hou gewen het.
Almal slyp hulle tande vir die bykans elf maande van opwindende sport en is lus vir ons weeklikse indabas. Ek sal, soos in die verlede, lesers op die hoogte hou van hul menings, sienings en waarnemings. Kan nie meer wag nie!
Groetnis