Kolskoot – 15 Mei 2013

0
502

Goeiedag
“Ek kry so ’n koue beklemming om my hart as ek dink aan die toetsrugby wat nog voorlê. Ná die nederlae wat die Sharks, Stormers en Cheetahs die afgelope naweek gely het, wil ek sommer ontslae raak vir my toetskaartjies. Dit lyk nou of ons gaan sukkel teen Samoa, Skotland en Italië om nie eers later van die All Blacks, Wallabies en Poemas te praat nie,” begin Bontie Bonthuys ons indaba op ’n treurnoot.

“Sak, Sarel. Die Kings het in die Baai teen die Highlanders gewys dat daar nog durf by ons Suid-Afrikaanse spelers is en onthou, die Bulle het nie gespeel nie,” bring oom Sjert ons gesprek weer op koers.“Jammer, manne, maar die Sharks se gespartel stem my tot weëmoed oor ons rugby. Daarom wil ek eerder ons tennisspeler Chanel Simmonds gelukwens met haar vertoning in die Soweto Ope. Sy het teen die verwagting in tot die eindstryd deurgedring en het geveg voordat sy teen Timea Babos van Hongarye 7-6 (7/3), 4-6 en 6-1 vasgeval het. Dit geen ’n mens weer moed, want onthou, Chanel is 70 plekke onder Timea op die wêreldranglys,” probeer Stywelip Carrington wegskram van rugbypraatjies.

Hy word natuurlik deur Bonthuys uit die Kaap ondersteun. “Ja, ek sien ons swemmers hoef darem nie meer self te betaal om internasionaal deel te neem nie, maar ai, ons atletiek ploeter steeds voort. Dit lyk nie asof die administrateurs behoorlik op dreef kan kom nie. Johan Cronjé het darem ’n SA rekord van 3:33.46 in die 1 500 meter in Doha opgestel,” gooi hy ’n Kaapse draai.
“Rustig raak, manne. Ek dink ons het genoeg talent om die bestes op die rugbyveld te laat les opsê. Heyneke Meyer moet net raakvat en nie opwindende spelers soos daardie twee Cheetahs, Willie le Roux en Lappies Labuschagne, miskyk nie. Daar is nog trots by ons spelers. Ek het dit in die Baai by die Kings gesien,” gooi Storie Bezuidenhout van Despath af wal.

Dit pas so reg in die Blou Bul-kraal van Botterbul Bester. “Moenie worrie nie, manne. Die Bulle gee die pas aan en sal Suid-Afrika verseker van ’n sterk kern van spelers vir die toetse. Kyk maar net na Superrugby se puntelys,” laat hy vermakerig van hom uit die Jakarandastad hoor. “Dankie Botterbul, maar jy hoef dit nie in te vryf nie. Die sout in die wonde van ons ander manne brand reeds soos vuur en om alles te kroon kry die Blitsbokke toe ook op Twickenham in die Wêreldsewesreeks slae,” sluit Bonthuys ons praatjie af.
Groetnis