Kolskoot – 14 May 2015

0
713

Goeiedag

“Ek hoop nie daar gaan ’n te sterk Italiaanse geur voortaan by die Toyota Cheetahs wees nie, want ons Suid-Afrikaners kan van pasta alleen nie leef nie. Die Cheetahs se nuwe breiers, Franco Smith en Corniel van Zyl, het albei sterk Italiaanse bande, maar hulle moet onthou, ons hou van rooivleis,” begin Sporie Bezuidenhout ons indaba op ’n ligte noot. “Dit was tyd vir verandering by die Cheetahs. Smith was ’n koelkop-losskakel vir die Vrystaat-Cheetahs en die Springbokke. Hy het dié benadering ook in sy afrigting by Treviso en nou weer met die Shimlas se verowering van die Varsitybeker gebruik. Van Zyl het as speler/afrigter ook sy spore in die klipharde Europese rugby verdien en in sewe toetse vir die Azzuri uitgedraf. Hulle kan saam met Hawies Fourie ’n gedugte kombinasie vorm.
“Naka Drotské het diep spore saam met Os du Randt in SA rugby getrap, maar die kreeftegang van Cheetah-rugby en veral die voortdurende verlies aan uithalerspelers was tekens dat hulle moes plek maak,” verduidelik Oom Sjert.
“Vernuwing kom ook by die Bulle. Pieter Rossouw, die voormalige Bok-vleuel, het na agt jaar as die Bulle se agterspelerbreier bedank. Wonder wie gaan hom vervang? Die Bulle speel Vrydag teen die Blues in Auckland en dan wag die res van die Australasiese toer nog,” laat Botterbul Bester van hom hoor.
“Ek wil nie krap waar dit nie jeuk nie, maar ons almal weet dat die Cheetahs die armste van die SA streekspanne is. Hulle verloor jaarliks van hul beste spelers, maar hoe kry hulle dit reg om nou ’n nuwe pos van direkteur van rugby vir Rory Duncan te skep? Dit kos geld. Kon die Cheetahs nie eerder spelers met dié geld behou het nie?” wil Bontie uit die Kaap weet.
“Ja, en onthou Smith moet voortbou op die spelers wat deur sy voorgangers gekontrakteer is. Gelukkig het hy die Curriebeker-reeks om hulle voor te berei vir aanstaande seisoen se Superrugby-reeks, want met van die spelers in die Cheetah-groep kan dit lol,” waarsku Sporie weer.
“Die dinge lê in die toekoms en hierdie komende naweek wag daar weer klipharde kragmetings op die SA spanne. My Haaie het nou vyf keer op ’n streep verloor. Tog was daar ’n verbetering in hul spel teen die Hurricanes – al het hulle 24-32 verloor. Saterdag pak hulle die Waratahs in Sydney, maar ek het hoop vir hulle. Die Leeus teen die Brumbies op Ellispark en die Cheetahs teen die Highlanders in Bloemfontein het dalk ’n moeiliker taak,” praat Stywelip Carrington die eerste keer weer rugby. “George Coetzee het die Mauritius Ope in die Europese gholfreeks gewen en hoewel die Blitsbokke in Skotland teen Nieu-Seeland en Fidji vasgeval het, het hulle die Plaatkompetisie gewen om vir aanstaande jaar se Olimpiese Spele te kwalifiseer.
Die Blitsbokke speel die komende naweek op Twickenham in dieselfde groep as Amerika, Frankryk en Portugal,” verander Bontie die onderwerp. Sporie wil oor netbal praat, Stywelip oor Formule Een en Oom Sjert oor Krieket Suid-Afrika se nominasies vir die jaarlikse toekennings. Almal gelyk.

Groetnis