Goeiedag
“Kom ons kom tot ’n vergelyk. Ons praat nie vandag Absa Curriebekerrugby nie, maar wel oor die Springbokke. Nie om te kritiseer nie, maar om te ondersteun, want ons Bokke gaan dit nodig hê met die Rugbykampioenskappe wat Saterdag met die wedstryd teen die Poemas van Argentinië begin, en daarna wag die Wallabies en All Blacks. Nie een van die spanne is ’n man se maat nie en die Bokke moet ons volle steun kry,” val oom Sjert met die deur in die huis.
“Kêrels, ek stem saam en wil nie kritiseer nie, maar ek bly ongelukkig oor die oproep van Fourie du Preez uit Japan. Nie omdat hy ’n swak skrumskakel is nie, maar vir die tweeledige boodskap wat dit uitstuur. Eerstens is jong kandidate skynbaar nie goed genoeg nie en tweedens gaan meer spelers makliker oorsese kontrakte aanvaar, want hulle kan nog steeds vir die Bokke uitdraf al speel hulle oorsee,” sê Bontie Bonthuys uit die Kaap.
“Ja, ek dink die beleid moet duidelik uitgestippel word sodat alle rugbyspelers en ons ondersteuners presies weet wat aangaan. Onthou, manne soos Francois Louw en Ruan Pienaar het ons allermins in die steek gelaat. Dieselfde geld ook vir Gurthro Steenkamp en Du Preez. Rugby het ’n wêreldsportsoort geword en is ’n beroepsport waarmee spelers hul brood en botter verdien. Ons moet aanpas,” verduidelik Sporie Bezuidenhout geduldig.
“Gee Heyneke Meyer ’n kans. Ek gaan Saterdag Soweto toe om in die FNB-stadion ons Bokke en Bafana Bafana te ondersteun,” laat Botterbul Bester vinnig van hom hoor.
“Ek weet nie, manne. Aan die eenkant moet nou gebou word vir die volgende Wêreldbeker-toernooi en jong spelers moet blootstelling kry. Aan die ander kant bou seges oor die Poemas, Wallabies en veral die All Blacks selfvertroue. Kom ons gee die Bokke ’n deeglike kans en kyk wat Meyer-hulle beplan,” sê Stywelip Carrington.
“Ons mag nou wel nie vandag Curriebekerrugby praat nie, maar ek wil darem vir julle sê ons swemmers, en veral Chad le Clos, Cameron van der Burgh en Roland Schoeman, maak my trots,” verander Bontie die onderwerp.
“Hoor, Hoor!” Klink dit van alle kante af op.
Groetnis