Kolskoot 13 March 2012

0
611

“Manne, dit was darem ’n lekker Suid-Afrikaanse sportnaweek!”
Só begin die gewoonlik rustige Oom Sjert ons weeklikse indaba.
“Byna al ons Superrugby-spanne het gewen en nie net gewen nie, maar in die proses drie Nieu-Seelandse spanne bloedneus gegee.  Die Cheetahs het my natuurlik opgewonde gemaak en so ook die Bulls en Stormers, maar ek was op Chevroletpark hier in Bloemfontein waar ons Proteas die Pakistani’s behoorlik in die eerste Internasionale Eendag-wedstryd afgeransel het. Ek sê julle, dit was lekker. “Nie net die sege met 125 lopies nie, maar ook omdat ons naatboulers sonder die hulp van Dale Steyn en Morné Morkel nege paaltjies laat kantel het.

Rory Kleinveldt met vier, eintlik vyf, want hy het ook ’n kolwer uitgehardloop en ons eie Knight, Ryan Mclaren, op 3/19 laat kantel. Ek het dit geniet, veral die honderdtal van Colin Ingram,” gesels hy. Sporie Bezuidenhout wys ons ook daarop dat ons Kevin Anderson in die Indian Wells Meesters deur is na die derde ronde nadat hy die vierde gekeurde David Ferrer van Spanje 3-6, 6-4 en 6-3 geklop het.
“Ja, ja, ek is ook bly, maar julle sê niks van die Bulls nie. Dit is die eerste keer dat hulle daar in Auckland, Nieu-Seeland, wen teen die span wat die Crusaders se tjank afgetrap het.

“Ek hoop julle het gesien dat ons ook nie net op Morné Steyn se skopskoen staatgemaak het nie, maar ook drieë gedruk het,” spog en kla Botterbul Bester. “Geluk, Botterbul, maar ek hoop jy het ook gekyk toe die Cheetahs, Stormers en Sharks gewen het.
Die Stormers het ook drieë gedruk en nie net verdedig nie en die huidige Superrugby-kampioen, Chiefs, op Nuweland getroef,” wys Bontie Bonthuys hom gou tereg. “Geluk, manne. Al die spanne het gewen. Ek is natuurlik bly die Sharks kon die Kings in die Baai troef. Die feit dat die Sharks dit net met skoppe kon doen bekommer my. Wat gaan hulle doen die dag as hulle nie op Pat Lambie kan staatmaak nie?” wil Stywelip Carrington weet.

Een saak waaroor die manne hierdie keer saamstem, is dat die Kings baie goed teen die Sharks gevaar het en dat hulle nog ander spanne vanjaar onaangenaam gaan verras.
Groetnis