Goeiedag,
Wat ’n roesemoes. Almal praat gelyk rugby, krieket, gholf, hokkie en weer rugby en ek was verplig om ons indaba tot orde te roep deur elke man ’n spreekbeurt te gee.
Botterbul Bester verklaar voor op die wa: “Die Bulls gaan vanjaar ’n groot jaar maak. Die Bulls het die Cheetahs se sterte 32-10 in Polokwane geknoop met Pierre Spies as tropleier.”
“Sak Sarel. Die Stormers en Sharks het albei groot seges oor die Boland-Kavaliers en Luiperds behaal en die Leeus het goed wraak op die Southern Kings geneem. Die Bulls gaan dalk net hier op eie bodem bloedneus kry,” waarsku Sporie Bezuidenhout van Despatch af.
“Ek is bly oor die Sharks se sege, maar ou Bottie spog te gou. Dit was net opwarmingswedstryde en geen werklike maatstaf nie.
“Ek is opgewonde oor die Proteas wat die Pakistani’s van môre af op Nuweland in die tweede kriekettoets pak. Ek wil sien hoe daai Phalaborwa Express weer onder die Pakistani’s se kolwers gaan maai. Daarby het die Protea-vrouehokkiespan uitstekend gevaar deur die Hockeyroos te klop om die eindstryd van die Ivestec Uitdaagreeks te haal en net 4-2 teen die wêreld se top-span, Nederland, vas te val,” praat Stywelip Carrington van die Haaiwaters af.
“Ek stem saam. Ek gaan op Nuweland wees. Dis nie net Curriebeker-wêreld hierdie nie, maar ons Kaapse Kobras het ook die trofee vir die Suid-Afrikaanse meerdaagse reeks verower deur die Chevrolet Knights klop,” spog Bontie Bonthuys van die Kaap af.
Oom Sjert hier is stil. Onheilspellend stil totdat Botterbul hom ewe vroom om sy mening vra.
“Ek stem met Stywelip saam. Geen rugbytrofee word reeds in Febuarie gewen nie. Daar Doer Onder pak die Rebels, Force, Brumbies en Reds mekaar eerste en ons en die Nieu-Seelanders begin eers aanstaande naweek. Dan kan ons menings uitspreek en moet nie die Cheetahs sommer afskryf nie.
“Kom ons wens liewer vir Richard Sterne geluk met sy skitterende rekordsege van 27 minder as baansyfer in die Joburg Ope.”
Groetnis