Goeiedag
Die Suid-Afrikaanse Paralimpiese sportlui het Suid-Afrikaners se harte die afgelope tyd warm laat klop en die feit dat die medaljewenners net soveel prysgeld as hul Olimpiese eweknieë van die regereing gaan kry, is wonderlike nuus. “Ons moet ‘n erewag vir Natalie du Toit vorm. Haar voortreflike vertonings in swem maak haar die suksesvolste Suid-Afrikaanse Paralimpiese medaljewenner nog. Ek salueer haar, want sy het in haar laaste Paralimpiese nommer geswem,” het Sporie Bezuidenhout met die intrapslag van hom laat hoor. “Hoor, hoor, sy maak ‘n mens se bloed groen. En moenie Oscar Pistorius se goud in die 400 vergeet nie!” Klink vanuit al die windrigtings op. Daar is ook ‘n moontlikheid dat van die ander gestremde sportlui soos Ernst van Dyk en Ilse Hayes gaan dalk uittree, maar daar is talle oor om op hierdie vertonings voort te bou. Sportlui soos Arnu Fourie, Kevin Paul, Toboho Magalagadi, Fanie van der Merwe, Charl Bouwer, Achmed Hassiem, Dyan Buis, Jonathan Ntutu en Anrune Liebenberg kan nog daar wees, terwyl daar in die volgende vier jaar ook nuwelinge op die voorgrond kan tree om Suid-Afrikaners breëbors te laat. “Ja, maar dieselfde kan nie van die Bokke van Heyneke Meyer gesê word nie,” sê oom Sjert daar uit die Rosestad. Hy is gewoonlik die koelkop, maar nie hierdie keer nie. “Genoeg is genoeg. Die Bokke boer weekliks agteruit. Die Wallabies klop ons, wat gaan die All Blacks met ons doen? Ek sidder as ek daaraan dink,” brom hy. “Ek stem saam. Selfs ‘n yster soos Willem Alberts lyk verskrik,” sê Stywelip Carrington daar van die Haai-waters af. Bontie Bonthuys laat hom nie van stryk af bring nie. “Kom ons los nou maar die Bokke, wat sê julle nou van ons jong Streeptruie. Skielik speel hulle hardlooprugby en druk drieë. Dalk moet Meyertjie by Allister Coetzee kom kers opsteek. Hy behoort ook dringend vir Heinrich Brussöw Nieu-Seeland toe laat vlieg vir ‘n baljagter,” sê hy van die Kaap van Storms af. Die Blou Bul-ondersteuner, Botterbul Bester, is die aflope tyd maar stillerig en hy probeer oor ander dinge praat. “Wat sê julle van die Protea-krieketspan? Ek is bekommerd as Amla nie speel nie.” Daar heers ‘n ongemaklike stilte. Selfs Stywelip, Oom Sjert en Bontie, wat weet hoe om ‘n wilgerlat te swaai en die bal van die naat af kan beweeg, reageer nie. “Ek waarsku julle. Die Curriebeker word nie nou al gewen nie,” laat Botterbul weer van hom hoor.
Groetnis