Goeiedag
“Ek wil huil. Sport loop vir ons Kapenaars nou lelik skeef. Eers kelder die Aussies die Proteas finaal 2-1 op Nuweland in die toetskrieketreeks. Én ek moes dit aanskou. Ek dink Graeme Smith se aankondiging dat hy finaal uittree voordat die toets voltooi is, was verkeerd. Dalk kon ons net enduit gekolf het en die reeks gelykop laat eindig het as hy tot ná die toets gewag het. Om alles te kroon trap die Stormers klei in Kiwiland en sukkel die Maties in die Varsitybeker-reeks. Gelukkig vergoed die Ikeys darem so effens,” bekla Bontie Bonthuys sy lot.
Hy kry egter min simpatie. “Kom ons wees eerlik, die Aussies het verdien om te wen. Daar was faktore soos Dale Steyn se besering en Smith se aankondiging en gepaardgaande swak kolfwerk wat dit makliker gemaak het. Smith het nou reeds nege keer sy paaljie teen die Aussie-snelbouler, Mitchell Johnson, verloor. Tog kan ons nie net hom blameer nie,” probeer Sporie Bezuidenhout verduidelik.
“Dit is gewis die einde van ’n era. Smith het ’n uitstekende rekord as Suid-Afrika se krieketkaptein en aanvangskolwer, maar met die gepaardgaande uittrede van Jacques Kallis en Mark Boucher gaan Suid-Afrika ’n nuwe era in. Maklik gaan dit nie wees nie en die nasionale keurders sal moet raakvat met hul besluit oor die kapteinskap. Hoewel AB de Villiers na die aangewese man lyk,” lug Oom Sjert sy mening uit die Rosestad.
“Lyk my julle wil nie rugby gesels nie, maar ek gaan. Wat sê julle nou van die Bulle? Hulle het die Blues se tjank behoorlik hier op Loftus Versfeld afgetrap en dit is nog nie die einde nie,” spog Botterbul Bester oudergewoonte.
Gelukkig verhoed Stywelip Carrington hewige stryery deur Botterbul geluk te wens. “Die Bulle het goed gespeel en verdien om te wen. Die Haaie bly ook op die wenpad, maar dit is die Leeus wat my steeds die meeste beïndruk met hul benadering van positiewe rugby.
“Ek bly bekommerd oor die vordering van die Suid-Afrikaanse rugby. Albei ons spanne oorsee, die Cheetahs en Stormers, stel teleur,” verduidelik hy.
“As Cheetah-ondersteuner stem ek saam, maar gelukkig vaar ons Charl Schwartzel en ons ander gholfspelers in Amerika, Kevin Anderson met sy tennis en atlete soos André Olivier en Elroy Galant in Pole nie te sleg nie. Dit geen gee my weer krag,” sluit Oom Sjert ons indaba af.
Groetnis.