E Copy

Date:

Kolskoot – 11 September 2014

Goeiedag

“Ek sidder as ek dink aan Saterdag. Die All Blacks, die wêreld se top-rugbyspan, wag in Nieu-Seeland op die Springbokke in die Koekblik, die Westpac-stadion in Wellington. Ná die gesukkel teen die Poemas van Argentinië en die afgelope Saterdag se skok-nederlaag van 23-24 teen die Wallabies in Perth, Australië twyfel ek of ek Saterdag om 09:35 na die toets gaan kyk,” begin Bontie Bonthuys ons indaba op ’n droewige noot.
“Bontie, jou benadering is nie reg nie. Jy, Sporie en Stywelip het verlede week vir ons vertel dat julle nou ere-ondersteuners van Liverpool is en dat ’n man deur dik en dun by sy span moet staan. Die Bokke verdien ons steun,” laat Botterbul Bester kordaat van hom hoor, want die Blou Bulle het mos die Goue Leeus 36-26 getroef.
“Botterbul, ons bly steeds ondersteuners van die Bokke, maar dit help nie om vir jouself te jok nie. Om die treurige skeidsregter, George Clancy, of Morné Steyn die skuld vir die Bokke se nederlaag te gee sal ons ook niks in die sak bring nie. Ons is reeds bekommerd oor die verouderde spelpatroon van die Bokke. As brute krag en skoppe nie die Bokke die oorhand laat kry nie, sukkel hulle. Dit het die Wallabies in Perth bewys,” praat Sporie van die Baai af.
“Waarom die Bokke en ook my Haaie in die Curriebeker-reeks nie die selfvertroue het om die bal lug te gee nie, bly ’n raaisel. Die keer toe die Bokke van vingerpunt-hantering gebruik gemaak het, het Cornal Hendricks teen die Wallabies gaan druk. Hoekom skop die Bokke soveel balbesit doelloos weg? Oom Sjert, wat sê jy?” vra Stywelip.
“Ek praat nie rugby nie. Ek is verslae oor die Bokke en oor die Vrystaat-Cheetahs, wat werklik power teen die Pumas was. Net soos die Bokke, kan hulle ook nie skrum nie.
“Dit is egter die gekarring van Fikile Mbalula met die opdwing van transformasie en kwotas wat my moerig het. Transformasie en kwotas word reeds sedert die tagtiger jare by die Craven-rugbyweek toegepas. Hoeveel ontwikkeling wil hulle nog doen? Wanneer word spanne op meriete gekies? Hoekom is daar nie kwotas vir sokkerspanne nie? Dalk moet hulle gaan kyk na die samestelling van die Bafana-span in die negentiger jare toe die span nommer een in Afrika en onder die beste 15 ter wêreld was. Dié man krap saam met Mervin Green van Saru waar dit nie jeuk nie,” brom Oom Sjert.
“Gelukkig het die Proteas in Zim die Aussies op hul neuse laat kyk. AB de Villiers se krieketspan gee my hoop. Dit was ook lekker toe Khotso Mokoena die goue in die driesprong in Brussels op die Diamantliga-byeenkoms gewen het en Sunette Viljoen met ’n gooi van 64.30 meter silwer in die spiesgooi verwerf het,” probeer Bontie sake in ’n ander rigting te stuur.
Dit is vergeefs, want die gedwonge kwotas krap die manne, almal sportliefhebbers, te veel om, en almal wil iets sê. Moelikheid.

Groetnis

Share post:

Popular

More like this
Related

Fire risk soars as Mangaung Fire Services crumble

The Democratic Alliance (DA) in the Free State has...

Bloem remains hopeful for Kamogelo’s return

On a cold winter’s morning, Monday, 9 June, the...

Arrival of soldiers from DRC delayed due to logistical issues

The South African National Defence Force (SANDF) has confirmed...

Low turnout dampens COSAFA tournament in Mangaung

The Council of Southern Africa Football Associations (COSAFA) has...