Goeiedag
’n Oomblik van stille eerbied vir Suid-Afrika se ontslape Vader van die Nasie geld vir ons ses makkers tydens hierdie week se indaba.
Ons al ses, Bontie Bonthuys, Stywelip Carrington, Sporie Bezuidenhout, Oom Sjert en Botterbul Bester, was almal in 1995 met die rugbyeindstryd om die Wêreldbeker-toernooi op Ellispark en het die Madiba Magic eerstehands beleef. Die wyse waarop hy die reënboognasie as ’n eenheid saamgesnoer het, sal ons altyd bybly.
Die sege van die Springbokke oor die magtige All Blacks en daardie wenskepskop van Joel Stransky in bykomende tyd is onvergeetlike hoogtepunte, want Suid-Afrika het die gesogte wêreldtitel in sy eerste deelname aan die toernooi gebuit en het dit voor sy eie mense op eie bodem vermag.
Dit was egter wyle president Nelson Mandela se teenwoordigheid op die verhoog op die veld wat meer vir Suid-Afrikaanse patriotisme, eenheid en samehorigheid gedoen as al die uithalerspel op die veld. Geklee in ’n Boktrui en Bok-pet op sy kop het Madiba die Webb Ellis-beker aan die Bok-kaptein, Francois Pienaar, onder oorverdowende gejuig, oorhandig.
“Vir my is die wêreldwye eerbied, meelewendheid en meegevoel van die krieketspelers in Dunedin, Nieu-Seeland waar die Kiwi’s en Windies gespeel het, ook in Adelaide in die tweede toets om die As tussen die Aussies en Engeland, op die gholfbaan by Sun City, in die Heinekenbeker-rugbywedstryde in Europa en op sokker- en sportvelde oral ongelooflik. In die meeste gevalle dra die sportlui roubande of -strikkies. Die wêreld het gewis ’n simbool van vrede verloor,” praat Bontie eerste.
“Wêreldleiers, lande, internasionale sportliggame en selfs die Nobel-komitee wat aan hom die Nobelprys vir Vrede toegeken het, het meegevoel en eerbied betoon. Dit is aangrypend,” laat Stywelip van hom hoor.
Ons groep het ook uit Engeland ’n boodskap van eerbied ontvang: “We have dug deep for this one. Madiba, the legendary and courageous South African was able to meet Liverpool when the club was in SA in the summer of 1994. Of this meeting the Liverpool captain John Barnes says: ‘The President was proudly presented with a Reds shirt by me after he told us he is a lifelong Liverpool supporter. I am not ashamed to say I had my picture taken with him and it hangs proudly on my wall at home’.”
“Suid-Afrika is in rou en met reg ook. En wanneer Nelson Rolihlahla Mandela na sy laaste rusplek vertrek, kan ons sê: “Stil manne, daar gaan ’n man verby,” sluit Sporie ons gesprek af.
Groetnis
Date: