Kolskoot – 11 December 2014

0
554

Goeiedag

“Suid-Afrika het weer ’n ware goue seun in sport. Dit het Chad le Clos bewys toe hy in Doha die eerste Suid-Afrikaner geword het om vier goue medaljes in die Wêreldkortbad-swemkampioenskap te verower. In 2006 het Ryk Neethling drie goues in Sjanghai ingepalm. Le Clos was manjifiek, want in twee van sy seges in die vlinderslag het hy wêreldrekordtye behaal. ’n Mens kan nie meer van ’n swemmer vra nie, en hy is net 22 jaar oud,” begin Sporie Bezuidenhout uit Despatch ons indaba op ’n opgewonde noot.
“Dit is vir my net die regte hoogtepunt om die jaar mee af te sluit en om dit nog lekkerder te maak het die Blitsbokke die IRR- Sewesrugbytitel in Doebai verower deur die Aussies in die eindstryd te klop en in die proses ook klaargespeel met die All Blacks, Poemas, Rooi Drake en Portugal. Welgedaan, Niel Powell. Nou moet julle net die naweek ook in die Nelson Madelabaai-stadion in die Baai jul titel suksesvol verdedig,” praat Botterbul Bester die eerste kere in weke lekker saam.
“Die ridders van die Vrystaat, die Knights, het my week gemaak met hul agt-paaltjie-sege oor die Leeus op die Wanderers. Nou pak hulle more op Nuweland die Kaapse Kobras in die eindstryd van die T20-reeks. Werner Coetsee moet net slim speel en hul aanwins van die Windies, André Russell, reg gebruik, veral teen die Kobras se draaiers. Bontie, gaan jy op Nuweland wees?” verskuif Oom Sjert die klem van die gesprek.
“Ja, Oom Sjert. Ná die Nedbank-uitdaagtoernooi en die vertoning van al die Engelsmanne wou Stywelip Carrington my met alle geweld saamsleep Leopard Creek toe daar by die Kruger-wildtuin vir die Alfred Dunhill-toernooi, maar ek weet nou hoe my oupagrootjie na die Anglo-Boereoorlog gevoel het. Verbeel jou, ’n Engelsman, Danny Willett (-18), wen die titel, gevolg deur sy landgenote, Ross Fisher en Luke Donald. Tim Clark en Louis Oosthuizen het die beste van die Suid-Afrikaners gevaar, maar dit is nie goed genoeg nie, want Willett het voor die toernooi die 84ste plek op die wêreldranglys beklee,” verduidelik Bontie sy posisie.
“Kalm bly, manne. Vir my gaan dit oor die gholf en nie oor Ingelsmanne nie. Ek gaan die naweek die gholf, Blitsbokke en die eindstryd van die T20-reeks voor die kassie dophou, want die son het my daar langs die Pilanesberg so gebrand dat ek soos ’n ware Rooinek lyk. Nie dat Bontie juis beter gevaar het nie. Ek wil julle sê, die son staan stil daar by Sun City,” paai Stywelip.
Bontie probeer nog verduidelik dat sy voorouers Kaapse rebelle was, maar die ander manne is min gepla en gesels sewesrugby, gholf en krieket.

Groetnis