Kolskoot 10 Oktober 2012

0
385

Goeiedag

Ons groepie sportvriende het ná die naweek vining tot ‘n vergelyk gekom. Almal is dit eens – die All Blacks is koning in rugby! Die Nieu-Seelanders verower ook die eerste titel Castle Rugbykampioenskappe deur die reeks onoorwonne af te sluit. Die sege van 32-16 in Soweto oor die Bokke wys dat Richie Mccaw en sy troepe eenvoudig twee keer beter is as Suid-Afrika wat tweede eindig. Die finale puntestand van die vier spanne, All Blacks, Bokke, Wallabies en Poemas, weerspieël dit ook duidelik. Die Nieu-Seelanders het 26 punte, meer as dubbeld soveel as die Bokke en Wallabies, wat beide 12 punte het. Vir Heyneke Meyer en sy bestuurspan moet dit ‘n duidelike waarskuwing wees, want die Wallabies het drie seges behaal teenoor die span van Jean de Villiers wat net twee seges kon behaal. ‘n Gelykop-uitslag en bonuspunte en beter punteverskil besorg aan die Bokke die tweede plek. Dit klink byna onmoontlik, maar ons sestal stem ook oor ander dinge saam. Die Bokke het die talent om vorentoe in ‘n gedugte span te ontwikkel. Veral sy voorspelers gaan met ‘n bietjie meer ervaring ‘n gevreesde agttal word. Agter skiet die vaardighede egter kort. Daardie vingerpunt-hantering en goeie oordeel is afwesig. Moontlik is dit patroon-rugby se skuld en daarby word rugbywedstryde deesdae deur meedoënlose en hegte verdediging gewen en hier het die Bokke ook gefaal. Dit gee my kans om asem te skep en so bietjie oor die Vrystaat in die algemeen te gesels, maar voor ek ‘n woord kan inkry laat Stywelip Carrington van hom hoor: "Ek het julle mos gesê daar harper iets met klein Goosen. Hy is met ‘n besering op die veld gestuur!" ‘n Koor van "Ja, jy was reg" klink op en dit gee my die kans: Die wonderlik opgegradeerde Vrystaat-atletiekstadion word Saterdag amptelik in gebruik geneem. Alle sportliefhebbers juig daaroor en die afgelope week is daar ook weer op die herstelde bane van die Vrystaat-stadion (Stadion-bane) gespeel. Dit gee aan Bloemfontein weer internasionale en nasionale status saam met die Vrystaat-rugbystadion, Chevroletpark vir krieket en binnekort ook die Stadion-swembad. Nou moet die verskillende sportverenigings –unies, -klubs en selfs skole ook in rat met hul mediaskakeling kom. Van die kleiner sportsoorte kla hulle kry geen publisiteit nie, maar stel hulle ooit iemand in kennis van gebeure? Selde of nooit is die antwoord. Dieselfde geld die meeste skole. Courant gee graag publisiteit aan kleiner sportsoorte en alle skole. Stuur net die inligting aan georg@centralmediagroup.co.za of skakel 051-5050-900.

Laat die berigte en nuus instroom.

Groetnis