Goeiedag
“Wat ’n allegaartjie van sport! Vir jou, Stywelip Carrington, beteken dit ’n “mixed grill” van sport. Ons moet julle Haaie mos ’n bietjie reghelp,” begin Bontie Bonthuys ons indaba. Hy is lus vir skoorsoek omdat die Stormers uit die Superrugby-wedloop is.
Botterbul Bester snap dit en hoewel hy wil bars van trots omdat die Bulle ‘n tuishalfeindstryd gaan kry, praat hy nie rugby nie.
“Ja,” merk hy op. “Daar was Wimbledonse tennis, gholf, hokkie en natuurlik ook die Tour de France-fietsry. ’n Mens moes rondspring tussen die TV-kanale.”
Die manne lag, want almal weet hy was op Loftus waar sy Bulle met die Haaie afgereken het.
“Dit was voorwaar ’n geskiedkundige sportweek. Andy Murray het die eerste Brit in 77 jaar geword om ’n Wimbledonse enkelspeltitel te wen. Die Skot is ook die Olimpiese kampioen. Boonop het Daryl Impey die eerste Suid-Afrikaner geword om die geel trui as voorloper in die Tour de France te dra. Die feit dat hy dit aan Chris Froome moes afstaan, maak dit aanvaarbaar, want Froom is ’n Brit, maar hy het in Johannesburg skoolgegaan en in Suid-Afrika begin fietsry.
“Ek was in die stadion toe die Cheetahs die Blues geklop het om vir die eerste keer in die geskiedenis vir die uitspeelronde van Superrugby te kwalifiseer,” sê Oom Sjert.
“Ja, en daarby is Chani Scheepers en haar Japannese maat eers in die halfeindronde van die vrouedubbelspel op Wimbledon gestuit,” speel Stywelip ook saam.
“Kêrels, ek hoop julle het gekyk hoe Richard Sterne in die Alstom Ope in Frankryk ons naam hoog hou. Hy het tweede na Graeme McDowell geëindig, “ sê Sporie Bezuidenhout van Despatch af.
“Alle grappies op ’n stokkie. Dit was ’n wonderlike onvoorspelerbare Wimbledonse toernooi. Geluk ook aan Marion Bertoli met haar vrouetitel,” sê Bontie en hy kry ’n ‘hoor, hoor’ van die ander.
“Onthou wie laaste lag, lag die lekkerste,” kry Botterbul sy stekie in voordat die manne aflui vir hul middagslapie.
Groetnis
Date: