E Copy

Date:

Kolskoot – 10 December 2015

Goeiedag
“Eina! Asof die versengende hitte nie genoeg is nie, het die Proteas se nederlaag met 337 lopies Maandag in die vierde en laaste kriekettoets teen Indië my plat teen die planke,” begin Oom Sjert ons voorlaaste indaba van die jaar op ’n treurige noot.
“Temba Bavuma (34), Hashim Amla (25 van 244 balle) en AB de Villiers (43 van 297 balle) het darem gewys van die kolwers het ruggraat en veggees, maar ongelukkig het hulle bittermin hulp van hul spanmaats gekry,” probeer Sporie Bezuidenhout om vir Oom Sjert moed in te praat.
“Kom ons wees eerlik. ’n Nederlaag van 3-0 in ’n toetsreeks van vier toetse is in enige taal ’n loesing. Daar is geen verskoning nie. Die Protea-kolwers was power,” lug Botterbul Bester sy mening.
“Onthou, die Proteas was tot onlangs nog die top-toetsspan ter wêreld en ek dink nie die beserings van Dale Steyn en Vernon Philander het ’n deurslaggewende rol gespeel nie. Ek sidder as ek daaraan dink dat die Proteas oor net meer as twee weke op 26 Desember in die eerste toets op Kingsmead in Durban teen die Engelse op die veld moet stap. Ons moet net hoop Steyn en Philander is teen daardie tyd weer reg. Amla, Faf du Plessis en JP Duminy sal hulle vinnig moet regruk en ’n man soos Quinton de Kock kan nadergetrek word,” laat Stywelip Carrington van hom hoor.
“Julle praat krieket, maar intussen het Heyneke Meyer as Springbok-afrigter bedank, iets waarop die meeste van ons gehoop het. Die aankondiging van Oregan Hoskins, president van Saru, dat die nuwe afrigter aan streng voorwaardes van regstellende aksie moet voldoen, kan dalk die sterkste kandidate vir die pos, Allister Coetzee en Johan Ackermann, tweekeer laat dink. Sodra spankeuses voorskriftelik is en geveto word, gaan die Bokke baie moeilik teen die sterkste rugbyspanne, All Blacks, Wallabies, Poemas, Ierland, Engeland en Wallis op gelyke voet kan meeding,” verander Bontie Bonthuys die onderwerp.
“Manne, om in sewesrugby teen Amerika te verloor is amper soos toe die Bokke teen Japan vasgeval het. In die Blitsbokke se guns moet ek sê dat die geelkaart, wat Seabelo Senatla teen die VSA in Doebai gekry het, deurslaggewend was. Geen span kan vir twee minute met net ses spelers op die veld al die gate toegestop kry nie. Saterdag begin die Kaapstadse sewestoernooi en die Blitsbokke speel in dieselfde groep as Engeland en Kenia. Dit kan dus weer lol vir die manne van Neil Powell, veral as Werner Kok en Cecil Afrika nie van hul beserings herstel nie,” waarsku Stywelip.
“Julle sal dit nie glo nie, maar ek kyk hierdie week gholf in Bloemfontein. Die kwalifiserende toernooi vir die Sonskynreeks vind hier op die bane van Schoemanpark en Bloemfontein plaas. Daar is 276 spelers in aksie, maar net 30 van hulle gaan teen Saterdag vir die reeks kwalifiseer. Ek gaan selfs in die hitte baie goeie gholf sien, want daar is ook 64 buitelanders in aksie,” verras Oom Sjert die ander manne.
Oudergewoonte praat almal gelyk en ons knip die indaba kort.
Groetnis 

 

Share post:

Popular

More like this
Related

Life Rosepark Hospital makes history with first CRT-D Implant in Free State

Life Rosepark Hospital, is proud to celebrate a remarkable...

UFS to participate in robotic surgeries for Mandela Month

To commemorate Mandela Month, the University of the Free...

Shootout leads to two fatalities in Odendaalsrus

The Free State police have arrested a 37-year-old man...

Mandela View: Planned power interruption scheduled for tomorrow

Centlec a planned power interruption notice for Mandela View...