Kolskoot 10 April 2012

0
601

Goeiedag
“Bravo Cheetahs, Sharks en Kings!” Met die uitsondering van Bontie Bonthuys in die Kaap ondersteun ons hele groep Botterbul Bester se inleiding vir ons weeklikse indaba.
Dit is duidelik dat Botterbul so bietjie witvoetjie soek nadat hy die afgelope paar weke aan die ontvangkant was, maar nou kan saampraat omdat die Bulls ’n loslootjie gehad het.
“Manne, ek is verheug oor ons spanne wat gewen het, maar kom ons praat so bietjie tennis en gholf.
“Dit is darem bitter jammer Kevin Anderson is nie beskikbaar vir sy land nie, want as hy gespeel het, kon ons wraggies Pole in ons Davisbeker-kragmeting geklop het. Ek dink nogtans Rik de Voest en die jong manne het geveg en met eer uit die stryd getree, al het ons 1-3 verloor.
“Daarby is ek ook opgewonde oor die Amerikaanse Meesters wat op die Augusta-baan begin, want ons Suid-Afrikaners vaar altyd goed daar,” verduidelik Stywelip sy versoek.
Bontie laat so kans nie verbygaan nie, want hy wil duidelik nie rugby praat nie. “Ja, sedert Gary Player die Meesters in 1961, 1974 en 1978 gewen het, het manne soos Trevor Immelman en Charl Schwartzel ook al die groen baadjie aangetrek,” vertel hy ons.
“Ja, dit is seker die groen baadjie wat die Meesterskampioen kry wat ons spelers so goed laat vaar. Dit is soos ’n Springbok- of Protea-baadjie,” laat Sporie Bezuidenhout van Despatch van hom hoor. Dit nadat niemand wou gesels nie toe hy daarop wys dat Despatch die eerste Cell C- nasionale klubkampioen is.
“Daar is vanjaar van ons manne soos Tim Clark, Ernie Els, Branden Grace, Richard Sterne, George Coetzee, Charl Schwartzel, Trevor Immelman en Louis Oosthuizen in aksie en dalk kan ons weer ’n Meesterskampioen oplewer,” laat oom Sjert van hom uit die Rosestad hoor.