Kolskoot – 1 Mei 2013

0
697

Goeiedag

“Man, dit was weer lekker om atletiek te kyk. Met die Sharks op toer in Australasië het ek die Suid-Afrikaanse studentekampioenskap bygewoon en kyk ook Varsity-atletiekreeks. Dit was uiters bevredigend om jong atlete soos Leroy Gelant, PC Beneke, Gideon Trotter, Rikenette Steenkamp, Ansulet Potgieter, André Olivier, Ronel Pronsloo, Wayde van Niekerk, Justine Palframan en andere in aksie te sien.

“Dit is darem bitter jammer dat die administrasie van die Olimpiese sportsoort in so ’n chaotiese toestand is. Juis daarom moet ons ons atlete aanmoedig en ondersteun. Van hulle is steeds van wêreldgehalte. “Nee, nee, moet nou nie dink ek praat atletiekpraatjies omdat die Sharks verloor het teen die Hurricanes nie. Ek dink net ons atlete, asook ons swemmers wat in ’n swembad vol groen water in die Baai moes meeding, en ons tennisspelers soos Chani Scheepers wat eers in die halfeindronde van die Marrakesh-toernooi gestuit is, verdien lof ondanks die min ondersteuning wat hulle van die Suid-Afrikaanse administrateurs kry,” begin Stywelip Carrington ons weeklikse indaba.

“Ek stem saam, maar kom ons wens eers die Bulle, Cheetahs en Stormers geluk met hul seges in Superrugby en dan moet julle ook nie Louis Oosthuizen se puik vertoning in die Ballantine’s toernooi in Suid-Korea vergeet nie. Hy het uiteindelik vyfde met drie houe agter die wenner geëindig,” laat Sporie Bezuidenhout van Despatch van hom hoor. Botterbul Bester wil nie bes gee nie. “Ja-maar,” begin hy, “net as Morné Steyn goed speel en die Bulle wen wil julle ander sake praat,” kla hy. “Butterbul, ons het die Bulle mos gelukgewens en Steyntjie is op die oomblik die beste losskakel in die land, maar laat ons nou so bietjie ander sake ook praat,” sê Bontie Bonthuys.

“Goed, kom ons praat so bietjie Bokke. Die spanne van Skotland, Italië en Samoa is eersdaags hier. Julle Bulle-kaptein, Pierre Spies, speel nie soos ’n Bok-agsteman nie. Dalk het dit tyd geword dat ons vir jou opnames van agtstemanne soos Philip van der Walt van die Cheetahs, of Duane Vermeulen van die Stormers, of selfs van Vleis Engelbrecht van die Kings se spel stuur. Dan kan jy sien hoe eintlik gespeel moet word,” knip Oom Sjert vir Bester ook kort. Toe begin die styery eers.

Groetnis