Goeiedag
Verlede week het ons ‘n super Suid-Afrikaanse sportnaweek beleef toe Ernie Els die Bristse Ope gewen het, die Protea-krieketspan van Graeme Smith die Engelse in die eerste toets op die Oval opgedons het en die Sharks die Reds in Brisbane in die Super 15-rugbyreeks se uitspeelronde gaan klop het. En jou werklik waar daar oortref ons sportlui dit deur die afgelope naweek met ‘n ware Goue Naweek vorendag te kom. Aan die spits was Cameron van der Burgh in swem op die Olimpiese Spele in Londen en saam met hom weer die Sharks op Nuweland in Kaapstad. Van der Burgh het in die 100 meter-borsslag Suid-Afrika se eerste medalje op die Spele, ‘n goue, verower en onder sy slagoffers was Christian Spreger van Australië en een van die grotes in borsslag Kosute Kitajima van Japan. Om dit in te vryf het hy reeds Vrydag die halfeindronde van die 100m-borsslag in ‘n Olimpiese rekordtyd gewen en Sondagaand het hy die goue medalje in ‘n wêreldrekordtyd van 48.46 sekondes gewen. Ai, dit was lekker om hom met ‘n breë glimlag en dan weer effens bewoë op die podium te sien, terwyl die SA-volkslied oor die luidspreker weerklink. Dit is die eerste individuele goue swemmedalje vir ‘n Suid-Afrikaner sedert Penney Heyns (1996) dit vermag het. Van der Burg het nog nooit die 59 sekonde-grens in die 100-borsslag oortref nie en hier kry hy dit binne drie dae twee keer reg in rekordtye. Bravo Cameron! Die Sharks is ná hul sege oor die Stormers in die halfeindronde reeds in Sydney, Australië waar hulle voorberei vir die Super 15-eindstryd teen die Chiefs in Nieu-Seeland. Die KwaZulu-Natallers sal eers later na Kiwiland vertrek vir die kragmeting. Stywelip Carrington het daar langs die Haaiwaters reeds ons almal in die binneland en ook natuurlik vir Bontie Bonthuys van die Kaapse vlakte laat weet dat hy die uitslag voorspel het en dat die Sharks nou onstuitbaar lyk. Niemand verskil nie. Nie Sporie Bezuidenhout van Despatch of Oom Sjert in Bloemfontein nie. Die manne staan almal agter die Sharks, selfs die hartseer Bonthuys, wat so graag ‘n ware rugbytrofee vir sy kinders wil wys. Botterbul Bester in die Jakarandastad is reeds dikmond omdat die Bulls lank nie meer in die wedloop is nie. Hy soek steeds simpatie en praat net Spele-sake. “Het julle raad vir ‘n seer duim? Van die baie TV-kanale wissel met die Spele het ek ‘n geswelde duim.” Niemand het raad nie, want hulle weet hy gaan Saterdag vasgenael voor die kassie sit wanneer die Sharks die Chiefs in die Waikato-stadion die stryd aansê.
Groetnis