Kolskoot – 09 October 2014

0
570

Goeiedag

“Na 22 toetsseges is die All Blacks met Steve Hansen as breier uiteindelik gestuit. En dit is die Springbokke wat dit in ’n stampvol Ellispark 27-25 vermag het. Dit het my laat dink aan die Bokke toe hulle die Wêreldbeker die eerste keer in 1995 op Ellispark verower het deur die Nieu-Seelanders in die eindstryd 15-12 te klop. Ook met ’n skop. Nie ’n lang strafskop soos die een deur Pat Lambie nie, maar daardie onvergeetlike skepskop van Joel Stransky. Ek dink Suid-Afrika kan aanstaande jaar in Engeland die eerste land word om die Wêreldbeker ’n derde keer te buit,” begin Bontie Bonthuys ons indaba.
“Bontie, moet nou nie die dam onder die eend uitpluk nie. Die Wêreldbeker word nie ’n jaar vooruit gewen nie. Ons het die eerste treetjie in die regte rigting gee, maar daar wag harde werk voordat ons dit weer gaan regkry,” maan Oom Sjert.
“Nieu-Seeland is steeds die topgekeurde rugbyland ter wêreld. Die All Blacks en Wallabies het albei al, soos die Bokke, die Wêreldbeker tweekeer verower, terwyl Engeland eenkeer die houer was. Heyneke Meyer moet die Bokke se Europese toer aan die einde van die jaar gebruik om die Wêreldbeker-groep reg te kry. Ek kan nie glo dat die Poemas die Wallabies 21-17 geklop het nie, laser-strale of te not,” laat Botterbul Bester van hom hoor.
“Kêrels, ek het hoop vir die Bokke en Heyneke Meyer. Ons speel weer aanvallende hardlooprugby en het die All Blacks én die Wallabies geklop. Nou moet ons daarop voortbou wanneer ons Ierland, Engeland, Italië en Wallis in die noorde gaan pak. Ek is lugtig vir die Engelse. Meyer het tot dusver gesoute spelers soos Victor Matfield, Bakkies Botha, Schalk Burger, Jean de Villiers en die voorry-manne goed saam met jong spelers laat speel. Ek wonder net of die ou strydrosse aanstaande jaar nog goed genoeg gaan wees?” praat Stywelip Carrington saam.
“Ek glo nie wat ek hoor nie. Niemand gesels Curriebeker-rugby nie en gewoonlik kry ons nie vir Botterbul stil as die Blou Bulle gewen het nie. Ek is jammer vir die Vrystaat-Cheetahs. Hulle is sonder sewe van hul Bokke en was nou in drie agtereenvolgende wedstryde ongelukkig om te verloor. Dinge lyk goed in die sentrale streek. Die Giffons speel Saterdag tuis in Welkom in die eindstryd van die Curriebeker se Eerste Liga teen die Valke en Griekwas het weer die OP Kings afgeransel. Ongelukkig is die Vrystaat se Bokke te laat terug om vir hulle ’n plek oop te speel,” verander Sporie Bezuidenhout die onderwerp.
“Julle sal my nie glo nie, maar met net sommige van die Bokke beskikbaar, reken ek die Blou Bulle kan weer die Kerriekoppie verower,” sê Oom Sjert onverwags.
Toe praat almal gelyk. Van hulle glo die Streeptruie is die gunstelinge. Ander steun die Leeus en die Haaie.
“Wag, kêrels. Kom ons kyk wat gebeur die naweek. Kom ons praat liewer oor Louis Oosthuizen en Richard Sterne se gholf. Hulle het gesamentlik sesde in die Alfred Dunhill-kusbaankampioenskap in Skotland geëindig,” probeer Bontie orde te bring, maar dis vergeefs.

Groetnis