Kolskoot – 07 May 2015

0
594

Goeiedag

“My wakkerbly vir die Boksgeveg van die Eeu tussen Floyd Mayweather en Manny Pacquiao in Las Vegas was teleurstellend. Vir ons minister van sport en ontspanning, Fakile Mbabula, moes dit seker nog erger gewees het. Reken, hy het al die pad Amerika toe gevlieg en nou wil mense weet wie het vir die uitstappie betaal? Hy is mos net soos Ace Magashule, ’n Vrystater. Dit was seker maar die Guptas, want wie het destyds vir Mayweather se besoek aan Suid-Afrika betaal? Ek vra maar net,” begin Stywelip Carrington ons indaba weer met boks.
“Stywelip, ek was slimmer. Ek het Sondagoggend om 07:00 na die hele geveg gekyk. Dit was werklik nie ’n skouspel nie. Albei is verby hul beste. Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar die Haaie se geploeter in die Superrugby-reeks teen die Highlanders in Dunedin was gewis swakker. Verbeel jou, die Haaie verloor 15-48. Daar is verskeie skroewe in die Haaie se rugby los,” gesels Sporie Bezuidenhout saam.
“Die Bulle is nou die top-span in Suid-Afrika, maar ek moet erken, dit was so hittete of die Leeus het ons geklop. Die Bulle was 35-33 bo, maar dit kon net sowel andersom gewees het. Ek is nog steeds kortasem van opgewondenheid,” verras Botterbul Bester ons.
“Geluk, Botterbul, julle verdien die boonste plek. My Stormers het in Bloemfontein erg teleurgestel. Daarmee wil ek nou nie te kenne gee dat die Toyota Cheetahs nie uitstekende spel vir hul sege van 25-17 opgedis het nie. Dit is amper so ’n groot verrassing soos die Rebels se sege van 16-15 oor die Chiefs, want die Cheetahs was sonder talle van hul staatmakers en Bokke,” laat Bontie Bonthuys van hom hoor.
“Manne, ek is trots op die Cheetahs en Bontie, nou weet jy hoe ek elke week voel wanneer van die Cheetahs se oud-spelers die uitblinkers is teen ons, vir ander spanne. Hierdie keer was die skoen aan die ander voet. Twee oud-Stormers, Joe Pietersen en Michael van der Spuy, was twee van die groot Cheetah-uitblinkers teen die Stormers.
“Vir my bly die Cheetahs se skrumwerk steeds ’n bron van groot kommer. Ons het net vier keer in die eerste helfte geskrum en nie een van die skrums kon voltooi word nie. Die Cheetahs het in al die skrums straf- of vryskoppe afgestaan. In die tweede helfte het dit ietwat beter gegaan toe die jong Rudolph Botha op loskop ingespan is, maar ons het weer strafskoppe afgestaan. Is dit nie tyd dat daar by die twee sterkste skrumspanne, Stormers en Leeus, kers opgesteek word nie. Gaan vra hulp by Matthew Proudfoot. Die Bulle kan ook daarby baat. Hou ’n skrumindaba en nooi al die skrumdokters asook die voorste skeidsregters,” gooi Oom Sjert ’n klip in die bos.
“Vergeet nou eers die vyftienman-rugby. Die Blitsbokke speel die naweek in Skotland in dieselfde groep as Nieu-Seeland, Samoa en Kenia. Dis hoë hekkies wat op Niel Powell en sy span wag,” herinner Bontie die ander manne.
Skielik is almal bekommerd.

Groetnis.